Gedagte vir die dag: Aan hulle behoort die koninkryk van God

Stiltetyd-13.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

‘Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.’ (Matteus 5:10)

Wie is dié wat vervolg word? Ken ons hulle, het ons al tussen hulle gestaan en ervaar wat hulle ervaar, deurgemaak wat hulle moet deurmaak? Broer Yun van China is een van dié wat openlik gepraat en geskryf het oor die vervolging wat hy en sy medegelowiges deurmaak. Hy het die Weste besoek en die kerk ernstig gewaarsku oor gemaksug, selfsug, kortsigtigheid en onvermoë om doeltreffend uit te reik na die wêreld. Kerkleiers is so besig om hul eie gemeentes te beskerm en hul gemeentelede onder beheer te hou dat hulle die groter prentjie miskyk. Jesus het ons opdrag gegee om uit te gaan en te verkondig, nie om laer te trek en te stagneer nie.

Die afgelope tyd moes baie Christengemeentes saamsmelt, hul kerke toemaak en die geboue uitverkoop aan ander gelowe. Omgewings hier verander van inwoners, maar hoekom is die Christendom besig om sy houvas in Europa te verloor? Dis dieselfde nasies wat nog daar woon, nasate van die mense wat hier by ons kom evangeliseer het?

Broer Yun vertel dat die kommunisme wat in 1949 in China aan bewind gekom het die Christenkerk teen die middel van 1970 totaal vernietig het. Geboue is gestroop, gemeentes uitmekaar gejaag en predikers in die tronk gegooi. Dit was ’n donker tyd in die geskiedenis van die Christendom in China. Maar hy noem dit ook ’n vuuroond van loutering, want toe die kerk daaruit herrys, was dit gesuiwer van trots en vormgodsdiens en het daar ’n nuwe gees onder die Christene posgevat. Volgens die jongste statistiek is daar vandag ongeveer 67 miljoen belydende Christene in China.

Genadige Jesus, help ons om saam te staan, U opdrag uit te voer, te bid en te werk sodat ons nie ook in ’n suiweringsproses ingedwing word nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Jooste ·

Dankie vir die twee Gedagtes (29 en 30 Mei). Hulle ondersteun mekaar. Voorspoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.