Gedagte vir die dag: Aan hulle behoort die koninkryk

hands-by-Niecey-sm.jpg

Foto: jewelsofencouragement.com

‘Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.’ (Matteus 5:3)

Jesus het bekend geword en groot skares het Hom gevolg. Hy het hulle siektes genees en hulle geestelik verryk. Sy idees was anders en nuut. Volgens die ou bedeling moes die Jode wat eendag in die hemel wou kom, al die wette getrou nakom en gereeld hul tiendes en offers na die tempel toe bring. Die wetgeleerdes het ook nog reëls en regulasies ingestel wat niks met die Wet van Moses te doen gehad het nie, maar meer laste op die gewone mense se skouers gelê het.

Jesus sê nee, die heel belangrikste vir enige mens is om die Here lief te hê en te aanbid as God en Heer wat alles versorg en onderhou. Jou werk, jou gesondheid, die ondersteuning van jou gesin, jou huis en spaargeld kan enige oomblik van jou af weggeneem word. Al is jy die staatspresident, skatryk, gewild en omring deur aardse skatte. Sonder God is jy uitgelewer aan elke moontlike ramp – die grootste hiervan is om op jou sterfbed te ontdek dat jy alleen is.

Om afhanklik van God te wees beteken dat jy jou lewe aan Hom oorgee, nie dat jy Hom met wetsgetrouheid kan manipuleer om jou te gee wat jy soek nie. Mense wat afhanklik is van God, begeer nie meer as wat hulle nodig het nie. Hulle berus hulle by sy besluite, is tevrede en leef ’n dankbare lewe. Vir hulle is wat hulle ook al van Hom ontvang, altyd oorgenoeg. Die Here God belowe hulle die beste wat Hy het – sy koninkryk.

Here, u kinders word ook hier op aarde ryklik geseën. Hulle blink uit op baie gebiede en is nie skaam om aan U die eer te gee nie. Ek bid vandag vir almal wat leiers op hul gebied is dat hulle van U afhanklik sal bly..

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lettie ·

Amen. Ons moet ons eie EK onttroon en die Here die kroon in ons lewens laat dra. Alles werk ten goede mee vir die wat Hom liefhet. En elke goeie daad hoe gering ook al doen n sneeubaleffek en inspireer ander om dieselfde te doen.
My seeninge en sukses en genade wat ek ontvang in die lewe is omdat ek Hom totaal vertrou met oplossings in my daaglikse lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.