Gedagte vir die dag: Aanbidding

sonsopkoms-man-wat-bid

Foto: living365withjesus.com

Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid. (Joh 4:23-24)

Lees Johannes 4:19-26

God vind vreugde daarin wanneer sy kinders in aanbidding voor Hom kniel. Want aanbidding is méér as blote gebed. Rick Warren verduidelik dit baie mooi wanneer hy sê dat aanbidding ’n lewenstyl is van ’n behae in God, liefde vir Hom en om ons aan Hom te gee sodat ons vir sy doeleindes gebruik kan word. Wanneer jy jou lewe aan die verheerliking van God wy, word alles wat jy doen ’n aanbiddingsdaad.

Dit is wonderlik om elke keer in jou stiltetyd met God te kommunikeer deur gebed. Maar jou aanbidding moet dwarsdeur jou besige dag aanhou sodat jy op ’n deurlopende wyse met God in verbinding sal wees: as jy werk toe ry, by die werk, in jou verhouding met ander mense, as jy jou verwonder oor die skoonheid van die natuur, wanneer jy met jou huiswerk besig is … Met alles wat jy doen, sê en dink, behoort jy God te aanbid. Hoe beter jy God leer ken en hoe meer tyd jy vir Hom opsy sit, hoe makliker gaan dit vir jou word om Hom te aanbid.

Vra die Heilige Gees om jóú te leer om God deur die Gees en in waarheid te aanbid.

Heilige Gees, leer my die geheim van ware aanbidding: om elke oomblik van my lewe die grootheid van God te ervaar en Hom daarvoor te loof. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.