Gedagte vir die dag: Aandag, asseblief

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Deur hulle swaarkry, red Hy mense wat ly. Want Hy gebruik hulle lyding om hulle oë oop te maak. (Job 36:15)

Pyn kry jou aandag. Wanneer tragedie in jou lewe ontplof, sal dit jou perspektiewe en prioriteite oopblaas. Jy sal die dinge wat nog altyd jou aandag afgelei het, sien vir wat hulle werklik is: afleidings.

Net soos verandering, kan lyding ’n katalisator wees wat iets in jou wakker maak – ’n dieper drang en dringendheid om voluit te leef. Om jou tyd en jou potensiaal te belê in dinge wat belangriker is. En dis uitstekend.

Daar sal moeilike dae wees wanneer jy jou drome moet aanpas of teen die hartseer moet baklei, maar neem Elisabeth Kübler-Ross se woorde ter harte: “Die pragtigste mense wat ons geken het, is dié wat neerlaag, lyding, worsteling en verlies geken het en hulle weg uit daardie dieptes gebaan het. Hierdie mense het waardering vir, ’n sensitiwiteit vir en ’n begrip van die lewe wat hulle vul met barmhartigheid, sagmoedigheid en diep, liefdevolle sorgsaamheid. Pragtige mense gebeur nie sommer net nie.”

Natuurlik ondervind jy nie noodwendig lyding omdat jy nie na God geluister het nie! Maar gebruik Hy dit nie dalk om jou aandag te kry nie?

Genadige, liefdevolle God, dankie dat U doen wat ook al nodig is – en alles wat gebeur, gebruik – om my terug te bring na U toe. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Irma ·

Nou is my enkelouer seun in my gedagtes. 3 Jaar gelede sy werk verloor en hy is op en af teen die leer van depressie en selfmoordgedagtes. Net Sondag het hy die bestaan van God betwyfel. En hy is ook een van die pragtige mense. Gaan God intree sodra hy homself ten volle oorgee en aan die voete van die Vader neerval? Volgens sy dogtertjie van 10 vat Liewe Jesus soms laaaaank voordat Hy almal se briefies gelees kry.

Marina ·

Saai volgens My wil, en julle sal My liefde oes. Ploeg vir julle ‘n nuwe land! Dit is nou die tyd om na My wil te vra sodat ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.

Elsa ·

Kan net nie verstaan waarom die hartseer, pyn en worsteling so laaaaaank moet aanhou nie….

moira ·

Ja ek vra ook daardie ding. Ek kan getuig dat God baie keer oombliklik help met baie goed in my lewe en oor weke sien mens die resultate maar my huwelik bid ek al so lank voor. Dan bid ek vir samesyn en dan se ek ag Here skei ons dan maar want ek kan nie en wil nie so aangaan nie maar ek weet skei is teen Sy beginsels maar dit raak ook nie beter nie. So ek ken daardie gevoel van lannnnk.

Magda ·

Hartseer en lyding en swaar kry is al 55 jaar my deel – maar skielik 3 dae terug het ek net agter gekom wat ek moet doen en ONSE VADER VRA om my te vergewe vir iets wat gedoen en gese is wat ek gedink het nie verkeerd was nie – ek voel ligter, vroliker (sukkel nog) maar dis net of alles sommer ligter is – Dis my begin GLO EK – DANKIE ONSE VADER – 55 jaar is n laaaaang tyd maar vir U soos gister en vandag – U WEET ALTYD BETER AMEN

mag ·

Harseer, lyding en swaar kry is al vir 55 jaar my deel – maar net 3 dae terug het ek net besef ek moet vergifnis vra vir iets wat ek gedoen en gese het wat ek gedink het nie verkeerd was nie – en alles is sommer net ligter – DANKIE ONSE VADER – 55 jaar is n laaaang tyd maar U weet beter – AMEN

Genieve ·

Vergifnis is die enigste genesing wanneer jy hartseer en pyn het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.