Gedagte vir die dag: Aangeleerde mensegebod

boek_blaai_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. (Markus 7:7)

Jesus het die Fariseërs daarvan beskuldig dat hulle verhouding met God ’n aangeleerde mensegebod is, en nie ware aanbidding nie. Daarom is die dinge wat hulle doen nie vir God aangenaam of aanneemlik nie. Mense wil God aanbid omdat hulle ’n ingebore behoefte na ’n regte verhouding met Hom het, en in God se goeie boekies wil bly sodat hulle voordeel uit sy seën kan trek. Hulle wil dit egter op hulle bepalings en voorwaardes doen, want dit maak die aanbidding gerieflik en nie veeleisend nie.

Heerlik! Kain was die eerste mens om so ’n stelsel te ontwerp. God vra bloedoffers vir die vergifnis van sonde. Kain vind dit ongerieflik. Hy het nie skape nie, net groente en graan en dalk is hy nie lus vir die moeite wat met die bloedoffer gepaardgaan nie (ek weet nie). Wat ook al die geval is, hy besluit om aan God te offer wat hom pas. God verwerp sy offer en Kain is briesend. Erger nog, sy broer se bloedoffer is aanvaar. God wou ’n bloedoffer gehad het, want dit was die getuienis van sy Seun, Jesus Christus.

Dit was die afwagting op die versoening en lewe van Jesus. Dít is die aanbidding wat God aanvaar – nie aangeleerde menslike gebooie van wat húlle dink God behaag of waarvan God behoort te hou nie. Moenie jou gewete sus omdat jy godsdienstig is nie. Jou offers en aanbidding kan ook deur God verwerp word, want jy verruil Jesus vir ’n aangeleerde mensegebod. God klap nie hande wanneer Hy godsdiensklokkies hoor lui nie, maar Hy vier fees saam met sy Seun en almal wat sy Seun omhels.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Pragtig gestel! Jesus kon in Sy tyd op aarde nie Fariseeragtigheid verdra nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.