Gedagte vir die dag: Aanvaar jouself

Natuur_sonstrale_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’.” (Matteus 22:37-39 – AFR83)

Selfliefde begin by selfaanvaarding. Elkeen van ons bestaan uit ’n kombinasie van positiewe en negatiewe eienskappe, niemand van ons is perfek en sonder foute nie. Dit gee egter nie aan ons die verskoning om nie onsself lief te hê nie. In die Woord sê Jesus vir ons dat net soos Hy ons liefhet, moet ons ook mekaar liefhê, maar dan sê Hy ook dat net soos ons onsself liefhet, moet ons ook ander liefhê. Dus moet jy leer om jouself net so lief te hê as wat Jesus jou liefhet, ongelooflik en onvoorwaardelik!

Begin deur meer te fokus op al jou goeie eienskappe en talente en benut elkeen van hulle ten volle. Moenie dat daardie negatiewe eienskappe die mooi in jou oorskadu nie. Dit beteken nie dat ons ons swakhede ontken nie, maar dat ons ’n positiewe benadering daaroor neem, en leer om onsself te aanvaar ten spyte van. Werk aan daardie negatiewe eienskappe en gewoontes, sonder om liefde vir jouself in die proses prys te gee, dit is die enigste manier waarop jy gaan leer om ook ander, soos Jesus, ongelooflik en onvoorwaardelik lief te hê.

Foute in jou lewe maak nie van jou ’n fout nie. Jy kan dalk vandag voel asof jy nie alles bymekaar het nie, maar dit maak nié van jou ’n mislukking nie! Nee, jy is soos ’n rowwe diamant, oneindig kosbaar en waardevol met ongelooflike potensiaal wat net wag om ontgin te word.

Laat die Heilige Gees toe om jou te slyp en met ’n bietjie polering hier en daar skitter jy soos die pragtige diamant wat jy reeds is!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Murray ·

Ja. God is ‘n God van liefde en dis uit Sy liefde wat die mens en dus jy geskape is. So ons moet elkeen dus lief vir ons liggaam en onsself wees.

Sandra ·

‘n Pragtige stuk Alta. Ek hou daarvan om so iets te lees wat vir my sin maak sonder tierlantyntjies. Maklik om te verstaan en maklik om te lees. Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.