Gedagte vir die dag: Aanvaarding

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. (Rom 15:7)

Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. (Rom 14:1)

As jy na ’n persoonlikheidsprofiel van elkeen van Jesus se dissipels kyk, kan jy nie help om te glimlag nie. Die klomp het so geweldig baie van mekaar verskil. In een en dieselfde groep was daar teenpole wat in die gewone gang van sake tot ernstige konflik kon aanleiding gee. Maar Jesus het hul le so aanvaar, trouens, Hy het hulle self uitgesoek! En die merkwaardige is dat ’n klomp uiteenlopende persoonlikhede in diens van die Here kan saamstaan en dieselfde doel kan nastreef. En hier lê die geheim: om ten spyte van verskille dieselfde doel en passie te hê. Die enigste dissipel wat uiteindelik nie in die span kon bly nie, was die een in wie se lewe selfsugtige motiewe die oorhand gekry het.

Ja, dit is geen geheim dat Christene van mekaar verskil nie. God het ons met ’n doel verskillend gemaak, naamlik dat ons mekaar sal aanvul en sodoende ’n veel groter krag in God se diens sal wees. Ons moenie probeer om ander mense na ons beeld te probeer hervorm nie. Nie een van ons is die bloudruk van die volmaakte mens nie. Jesus is die bloudruk. Ons kan almal daarna strewe om meer en meer soos Hy te word. En in die proses moet ons mekaar verdra en aanvaar, foute en al.

Daar het al soveel verdeeldheid in die kerk ontstaan omdat Christene mekaar nie wou aanvaar nie. En wees eerlik met jouself: Is daar dalk gelowiges in jou eie omgewing wat jy weier om te aanvaar om dat hulle van jou verskil?

Reik vandag uit na ’n gelowige wat jy tot nou toe nie wou aanvaar nie.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.