Gedagte vir die dag: Af met die maskers!

Boekevat Foto - Sonsopkoms oor dam

Foto: Christo Brits

Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit. U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. (Ps 139:1-2)

Mense dra graag maskers sodat ander mense nie hul le ware self kan raaksien nie. Almal van ons wil onsself graag mooier en slimmer en beter voordoen as wat ons regtig is. Vroue gaan nêrens sonder hulle grimering nie, hulle kleur hulle hare en betaal plase se geld vir grimeermiddels wat beloof om hulle ewig jonk en mooi te hou. Boonop begin mans deesdae fluks meedoen! Die meeste volwassenes doen ook hulle uiterste bes om ander mense te plesier … terwyl kinders nie aarsel om sónder maskers rond te loop nie.

Jesus sê nie verniet dat ons weer soos kinders moet word nie. Wat kinders dink, kan glashelder op hulle gesiggies gelees word. Hulle het geen geheime agendas nie. Dis vir my die lekkerste ding in die wêreld om ons tweejarige kleindogter se stralende gesiggie te sien as ons kom kuier. Miskien moet ons weer leer om ons areas van kwesbaarheid met ons vriende te deel, om oop te maak vir mekaar, om maskerloos te leef en eerlik te wees teenoor mekaar. Want maskers werk nie met God nie. Hy sien dwarsdeur ons, Hy weet alles van ons af, ook van die dinge wat ons vir ander probeer wegsteek. Raak gerus ontslae van jou maskers en gee vir jou vriende die geskenk van openheid.

Here, daar is so baie maskers waaragter ek my ware self probeer wegsteek. Dankie dat U my deur en deur ken. Help my om in die vervolg opreg en maskerloos te leef. Amen

Lees: Psalm 139:1-12

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.