Afgaanse Christene versprei boodskap van hoop

Nilofer kniel op die grond om te bid. (Foto verskaf)

“Indien die owerhede uitvind dat iemand ʼn Christen is, word die persoon dadelik doodgemaak. En nie net hy nie, maar sy hele familie…”

Só beskryf Nilofer*, ʼn vlugteling, die aaklige prys wat daaraan verbonde is om Jesus in haar tuisland, Afganistan, te volg. Sy is een van talle gelowiges wat moes vlug toe die Taliban in Augustus 2021 Kaboel binnegeval en die bewind oorgeneem het. “Indien ek nou nog in Afganistan was, sou ek verseker nie meer vandag geleef het nie,” sê sy.

Afganistan is in die negende posisie op Geopende Deure Internasionaal se 2023 Wêreldwaarnemingslys, wat onlangs uitgereik is. Dié jaarlikse lys, wat nou in sy 30ste jaar is, wys die top-50 lande waar Christene die ergste vervolging weens hul geloof ervaar.

Uiterste vervolging

Hoewel Afganistan in 2022 in die topposisie op die lys was as die gevaarlikste plek in die wêreld om ʼn Christen te wees en dus nou ʼn laer ranglysposisie as verlede jaar beklee, beteken dit geensins dat die situasie vir Christene verbeter het nie. Vervolging bly steeds op ʼn uiterste vlak, maar bekeerlinge leef nou nog dieper ondergronds as tevore en dit skep ʼn groter uitdaging om geverifieerde data oor geweld te bekom.

Ná die brutale Taliban-oorname in 2021 is baie Christene tereggestel, aangesien Taliban-soldate van deur tot deur gegaan het om gelowiges uit te roei. Talle Christene het gevolglik dieper weggekruip of oorsee gevlug. Die Afgaanse Kerk is drasties kleiner en versteek, en ervaar steeds intense vervolging. Meisies gaan nie meer skool nie en vroue wat weier om die Moslem-kopdoek (“hijab”) te dra, word aangerand of doodgemaak.

Lig in ʼn donker wêreld

Hana*, ʼn Geopende Deure-vennoot in die land, sê: “Afgaanse gelowiges het die verantwoordelikheid om die lig van Christus in ʼn baie donker wêreld te wees, en baie sterf vir hul geloof. Die Christene wat nog in die land oor is, bly om die lig van Christus te wees en die Here se seën oor hul tuisland te bewerkstellig – selfs al is ander mense vyandig teenoor hulle. Hoewel daar slegs ʼn handjievol gelowiges oor is, is God getrou aan hulle. Hy beantwoord hul gebede, gee hulle krag om swaarkry te verduur en lei die globale kerk om vir hulle te bid.

“Ondanks al dié swaarkry het Geopende Deure se ondersteuners gekies om by ons Afgaanse broers en susters te staan toe dit die meeste saak gemaak het. Julle gebede gee aan die Christene wat verkies om in die land te bly krag en bemoediging.”

Noodsaaklike ondersteuning

ʼn Vrou en kind in Kaboel, Afganistan. (Foto verskaf)

Nog ʼn vennoot van Geopende Deure, Miranda*, besoek gesinne wat saam in ʼn woonstel op ʼn geheime plek skuil. “Almal van hulle het al hul besittings verkoop om hierheen te kom. Maar die lewe is moeilik. Hulle is professionele dokters en verpleegsters, maar hulle kan nie werk nie en moet elke jaar betaal om hul vlugtelingstatus te hernu. Julle geskenke en ondersteuning voorsien noodsaaklike praktiese hulp aan dié gesinne en ander Christen-vlugtelinge,” vertel sy.

ʼn Ander anonieme gelowige voeg by: “Julle het ons kom help en ons nie net in die donkerte laat verdwyn nie. Julle geskenke en gebede help om kos en noodsaaklikhede aan families in nood te voorsien – en die belangrikste, julle ondersteuning beteken dat Afgaanse Christene weet hulle is nie alleen nie.

“Hou asseblief aan om vir ons te bid. Bid vir die veiligheid van Christene in ons land, dat gelowiges toegang tot onderrig en mediese hulp sal hê, en vir diegene wat alles op die spel plaas om by ons vervolgde geloofsfamilie te wees. Bid ook vir ʼn moedige, florerende en getroue Afgaanse kerk – selfs in die donkerste tye.”

Bid vir vervolgde Christene

Namate die vervolging van Christene in Afganistan en ander lande op die Wêreldwaarnemingslys verskerp, benodig vervolgde Christene jou gebede en ondersteuning meer as ooit tevore.

Klik hier om ʼn GRATIS 2023 Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart af te laai om jou te help bid vir vervolgde Christene en te sien wie die 50 lande is waar vervolging die ergste is.

*Name weens veiligheidsredes verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.