Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. (1 Kor 13:4)
Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie. (Gal 5:26)
Begeerte, jaloesie en afguns is ’n gedugte driemanskap. Om te begeer klink as sodanig darem nie te sleg nie. Om iets wat die moeite werd is graag te wil besit, is seker nie so ernstig nie. Maar begeer kry ’n skerp kant wanneer jy ten koste van ander mense begeer. Wanneer jy iets begeer wat aan ander mense behoort en dit net kan bekom deur die ander persoon te benadeel. Jaloesie is die emosie wat jy ervaar wanneer jy nie kan kry wat jy begeer nie. Jaloesie kan in ’n mate beheer word. Jy kan vrede maak met die feit dat jy nie ’n toekomstige Mej. Suid-Afrika sal wees of die Ysterman van die jaar nie.
Maar nou vir daardie giftige emosie wat intree wanneer jy nie kan vrede maak met die feit dat jy nie kan kry wat jy begeer nie. Afguns. Jy kners op jou tande van frustrasie. Jy lê en tob op jou bed. In jou gemoed is die woede besig om op te bou. Jou begeerte het ’n paranoia geword.
Koning Agab het Nabot se wingerd begeer, maar kon dit nie kry nie. Toe raak hy afgunstig en hierdie afguns het tot moord aanleiding gegee.
Maar gelukkig is ons darem nie so moorddadig afgunstig nie.
Beveg afguns met opregte omgeeliefde.
Pas op! Onthou, dit begin by begeerte van iets wat ek nie kan kry nie; dan jaloesie; en as jy nie vinnig briek aandraai nie, is afguns om die draai. Volg liewer Paulus se goeie raad. Moenie afgunstig wees nie, maar beveg afguns met liefde! As jy jou naaste liefhet soos jouself, sal jy mos nie omgee as hy iets het wat jy so graag wil hê nie.