Gedagte vir die dag: Afhanklikheid

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matt 5:3)

Lees Matteus 5:3-12

In die tyd waarin ons leef, is dit nie juis ’n voordeel om afhanklik te wees nie. Almal van ons wil mos veel liewer ónafhanklik wees; ons wil vir onsself kan sorg sonder om in iemand anders se oë te kyk. Maar Jesus sê in sy Bergpreek dat dit juis die mense is wat bewus is van hulle afhanklikheid van God wat gelukkig en geseënd is. Hy belowe ook dat die koninkryk van die hemel aan hierdie “afhanklikes” sal behoort.

Om die waarheid te sê dit is vir Hom só belangrik dat sy kinders geheel en al van Hom afhanklik sal wees én hierdie afhanklikheid sal erken, dat dit die heel eerste sinnetjie van sy Bergpreek is.

Dit is gewoonlik eers wanneer ’n ramp jou tref of wan neer jy aan die einde van jou eie kragte kom dat jy gewillig is om jou afhanklikheid van God te erken. In 2 Korintiërs 1:8-10 vertel Paulus van die probleme wat hulle in Asië ondervind het, en dan getuig hy: “Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God” (v. 9).

Is jy al bereid om in alles van God afhanklik te wees; om jou onafhanklikheid en jou eie wil prys te gee sodat jou hele lewe in afhanklikheid van God en in ooreenstemming met sy wil geleef sal word? Moenie langer uitstel om jou afhanklikheid te erken nie.

Here, leer my net weer dat as ek gewillig is en my afhanklikheid erken, u koninkryk aan my sal behoort. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.