Gedagte vir die dag: Ai, Tomas

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Johannes 20:26-31

En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” (Johannes 20:28)

Tomas se storie word toe ’n verhaal van twee Sondae. Albei kere kom staan Jesus in die ligkring. Bring Hy, soos dit maar met Hom is, die nuwe asem vir sy volgelinge se benoudheid. Maar deurentyd bly Tomas se dreunende stem prominent.

Eers: “As ek nie … sal ek nooit glo nie” (v. 25). En toe: “My Here en my God!”

Dit is daardie besliste “nooit” wat die eerste Sondagaand die hardste opklink. Maar toe, die tweede Sondag, word alles sagter, vloeibaarder. Na alle waarskynlikheid het hy toe nooit Jesus se uitnodiging aanvaar om sy vinger in die spykermerke en sy hand in Jesus se sy te kom steek nie. Dalk het hy skaam-skaam op sy knieë neergesak toe hy Jesus in lewende lywe sien. Miskien het hy toe gebloos oor sy aggressiewe grootmangedrag, sy groot mond, sy harde “nooit” die vorige keer.

Waarskynlik. Dalk. Miskien.

Hopelik is dit dié woorde wat Tomas Didimus voortaan sou kenmerk. Die weifelende, twyfelende Tomas. Want vir twyfelaars was daar nog altyd plek by God. En weifelende gelowiges is altyd in sy lig, al staan hulle dikwels eenkant. Al wonder hulle oor meer dinge as die binnekring. Al sukkel hulle om so goed soos die ander te sien. Al bloos hulle dikwels oor hul onsekerhede te midde van hul broers en susters se vaste oortuigings.

Ag, en is die feit dat Tomas binne ’n week van “nooit” tot by “my Here” vorder, nie ’n wonderlike herinnering aan die sort asem wat Jesus gee nie!

My Here en my God, wys tog ook vir my hoe lief U my het. Blaas u asem oor my.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae