Akwila, Priscilla en Paulus – kollegas en vriende

Groete vir Priscilla en Akwila, my medewerkers in Christus Jesus wat hulle lewe vir my gewaag het. Dit is nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die heidennasies. Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom.
Romeine 16:3-5

Ek hou verskriklik baie daarvan om in die Bybel mense wat ‘n verskil gemaak het, te ontdek. Priscilla en Akwila is so ‘n paartjie wat saamgewerk en saam die evangelie verkondig het. Paulus het hulle in Korinte ontmoet en het in hulle twee vriendelike metgeselle gevind. Soos Paulus, het hulle ook tente gemaak. Paulus het saam met hulle gewerk en ook by hulle tuisgegaan.

Paulus het pas van Atene gekom waar hy vir Silas en Timoteus gewag het en waar hy baie verontwaardig geword het toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad was. (Handelinge 17:16-32). Wat ‘n seën toe hy met sy aankoms in Korinte hierdie twee warm en liefdevolle vriende ontmoet. Dit is dus geen verrassing dat daar onmiddellik ‘n sterk band tussen die drie vriende was nie.

Dit was egter nie hulle sekulêre werk wat die band versterk het nie – dit was die werk wat hulle saam vir Christus gedoen het. Dit was nie lank nie of die twee was baie aktief in Paulus se bediening. Die drie het met hart en siel begin om die gemeente in Korinte op te bou. Toe Paulus na Sirië vertrek, was Priscilla en Akwila saam met hom. Hulle paaie het wel later geskei, maar nie hulle vriendskap of hulle bediening was verby nie.

Toe Paulus aan die Romeine skryf, vra hy spesifiek dat die Romeinse kerk groete moet oordra aan Priscilla en Akwila en ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom. Hierdie egpaar het hulle huis vir hulle broers en susters in Christus oopgestel; ‘n wonderlike voorbeeld van Christelike gasvryheid, vriendskap en gemeenskap.

Hulle vriendskap met Paulus het vir die res van sy lewe voortgeduur. Kort voor sy dood skryf hy ‘n kort briefie aan Timoteus. Hy het min tyd, maar nogtans vra hy Timoteus om sy groete aan Priscilla en Akwila oor te dra. Reg aan die einde van sy lewe onthou hy steeds diegene wat saam met hom gewerk en gedien het en wat in die ware sin van die woord sy vriende geword het.

Gebed: Dankie Hemelse Vader vir die voorbeeld van hierdie drie vriende. Help my om ook so ‘n ware vriend te wees vir diegene in my familie en in my kerk en dat U daardeur verheerlik sal word. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.