Gedagte vir die dag: Al gaan dit sleg

vyeboom

Foto: Reint Dykema

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. (Habakuk 3:17–18)

Die boer word vermoor terwyl hy gereed maak om kerk toe te gaan. ’n Vrou se handsak word deur ’n bedelaar gegryp toe sy dit oopmaak om vir hom ’n geldstuk te soek. Getroue kerkmense se huis brand af met al hul besittings wat boeke, foto’s en erfstukke insluit. Hulle het niemand enige kwaad aangedoen nie, maar hulle word seergemaak.

Nog ’n boer het op sy knieë gegaan en geld geleen om vanjaar te ploeg en te saai. Toe die mielies heuphoogte staan, bars daar ’n haelstorm los en hy is nie verseker nie. Waarom kry goeie mense swaar – mense wat op God vertrou?

By die skool of werk word jy uitgeskuif omdat jy jou Christen-beginsels uitleef. Daar word teen jou gediskrimineer omdat jy Jesus eerste plaas. Waar­om word Jesus se volgelinge bespot en verneder? Gee God dan nie om nie? Hoor Hy nie hul gebede nie?

Dis die vrae wat Habakuk ongeveer 600 jaar voor Jesus se geboorte al gevra het. Dit lyk vir Habakuk of die goddeloses aan die wenkant is en God se volk aan die verloorkant. Eindelik besef hy dat hy juis onder sulke omstan­dighede sy oog op die Here moet hou en sing hy die treffende loflied wat ons almal so goed ken. Al gaan dit ook hóé sleg, weet hy dat die Here God in be­heer is en eendag nog tot sy redding sal kom.

Liewe Here, ons roep U aan wanneer ons magteloos is en nie meer herwaarts of derwaarts weet nie. Niks maak sin nie, ons verstaan nie hoekom ons seerkry nie. Ons het alles verloor, maar U is nog daar en ons weet dat U ons liefhet. U is ons enigste hoop.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sydney ·

Baie dankie vir die dagstukkies wat ons in Maroela nuus kan lees. Dit gee my/ons krag om deur die dag te kom met soveel negatiewe elemente rondom ons……………… Waar sal ons hulp vandaan kom? Van Hom wat hemele en aarde geskep het……… Dankie Here

Eddie ·

Al gaan dit nie altyd goed met ons nie is daar nogsteeds so baie om dankbaar voor te wees. Dankbaar vir die liefde wat ons elke dag ontvang. Van ons kinders, ons eggenote, ons ouers, ons vriende, famiie, Dankbaar dat ons die heerlijke dag wat ons Vader vir ons “pasela” gegee het te kan geniet. Dankbaar dat ons besluite kan neem en mag ons die besluit neem om hierdie “pasela” dag “HEERlik” te kan maak.

Mien ·

Dit voel vir my of Sy hand van genade my omvou met hierdie gedagte wat ek juis vir hierdie dag, 15 Augustus, nodig het.

louis ·

So waar! So ervaar ek vandag hoe die lewe sy rug gedraai het en niks wil uitwerk nie in my lewe nie maar ek kan saam jubel en juig in die HERE want ek weet dit is net dydelik dan word ons hiervan verlos! Bid asb ook vir my! Amen!

SNEL ·

Sal beslis so maak Louis, ek bid vir jou en vir Leon Pit. Die aanslae van die vyand is vel, maar ons moet net ons oë op die Here hou, want hy (satan) wil ons fokus steel.

Leon Pit ·

Louis ek dra jou op in my gebede aan ons Skepper die Almagtige.
Ek ( Ons ) sit ook in die sloot en sukkel om op te kom al wat my staande hou is God se oneindige genade. Bly op jul knie en glo daar sal uitkoms wees op Sy eie tyd sal Hy voorsien.
Prys die Here.
Amen

Frikkie ·

Worstel ook met die vrae, is op n laagtepunt in my lewe………..

Johan ·

Die pad wat ek al gestap het is so baie ver. Die plek waarna ek op pad heen is kom al nader. Dagstukkies soos vandag sin maak die pad vir my, en al Sy kinders, soveel meer gelyk. Dankie hiervoor en seën aan al my mede gelowiges wat hierdie pad nog deur genade mag stap.

Adolf ·

Al gaan ek in dood skaduwee, ek sal geen onheil vrees nie en ek sal altyd by die Here bly. Hy is die gewer van alles. Prys Sy Naam.

Mercia Coetzee ·

Vandag wil Ek Vir almal wat deur moeilike tye gaan, die son se strale in n fles opvang, die reenboog in hul voorhuis hang, op die stoep n swaeltjie Nessie bou, en by die agterdeur n mandjie laat vol onthou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.