Gedagte vir die dag: Al gaan dit swaar, God is by jou

sonondergang_voels_vlieg_stiltetyd.jpg

Foto: kids-myshot.nationalgeographic.com

Kyk, daar kom ’n tyd … dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin. (Johannes 16:32-33)

Raak ’n paar oomblikke stil. Wat is jou vrese en spanning in hierdie oggend? Watter storm beleef jy tans? Waaroor bekommer jy jou? Dalk gaan dit nie goed by die werk nie. Miskien is jou huwelik op die rotse of dalk het een van jou kinders die pad byster geraak. Miskien bekommer jy jou oor die toekoms – niemand weet presies wat vir ons in hierdie lewe voorlê en wat die toekoms vir ons en ons kinders inhou nie.

Jesus bemoedig ons en sy dissipels egter wanneer Hy hier in Johannes sê: Al kry ons swaar en bekommer ons onsself moet ons nooit vergeet nie, Hy het die wêreld klaar oorwin. Hiermee sê Hy ons moet moedig bly omdat ons nooit alleen is nie, Hy is altyd by ons. Ja, ons kan dalk seer seisoene in hierdie lewe beleef, maar God is by ons te midde daarvan. Hy vrywaar ons nie noodwendig van al die storms van die lewe nie, maar van een ding kan ons seker wees, Hy is by ons in die storm. Hy dra ons wanneer dit vir ons voel ons kan nie meer staande bly nie.

Die feit dat God by ons in swaar tye is al voel dit nie altyd so nie, laat my dink aan die beeld van ’n vliegtuig wat in ongure weer opstyg. Dit klim deur die lug, deur die digte wolke en ’n mens dink jy gaan nooit weer die son sien skyn nie. Dan skielik breek die vliegtuig deur die somber wolke en daar skyn die son helder en die lug is blou – treffend is dat die son die hele tyd so helder geskyn het, ons moes net vanuit ’n hoër gesigspunt gekyk het om dit te sien.

Wanneer dit vir jou voel of dinge te veel raak, rus in God. Verklaar opnuut jou afhanklikheid van Hom. Hang aan sy genade, dit is elke môre nuut.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amanda ·

My Here my God gee vir my krag. Amen Amen Amen Amen ek juig vir u My God. Ek buig voor U neer en se U is my leier. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.