Gedagte vir die dag: Alhoewel; nogtans

gemsbok en duineAl sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (Hab 3:17-19)

Hierdie juweel bly een van die merkwaardigste getuienisse van iemand se onwrikbare geloof in God se goedheid en kragtige ondersteuning. Die teks spreek tot my omdat die “alhoewel”- gedeelte van die teks so baie kere ooreenkoms toon met slegte omstandighede wat oor die pad van gelowiges kom. Ons het mos almal maar ons alhoewel-oomblikke. Dit kan die mislukking van ’n oes wees, of ’n sakeonderneming wat ondergegaan het, of ’n verhouding wat verbrokkel het, of ’n ernstige siekte of … of … of …

En wanneer ons vyeboom nie bot en daar geen druiwe aan die wingerdstok is nie, dan soek ons troos en raad en moed. En dit is dan wanneer ons met albei hande uitreik na die nogtans hoop van die teksgedeelte. Die “nogtans” gaan oor God, oor sy magtige teenwoordigheid en wonderwerkende krag in my lewe. Nee, Hy jaag nie skielik kleinvee in die kamp en beeste in die kraal nie. Die ellendes van die lewe ontwyk my nie. Maar God kom trek laer rondom my. Ek jubel nie oor ’n lotto wat ek gewen het nie, maar oor die genadevoorreg van ’n persoonlike verhouding met God.

God voorsien my van innerlike krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok. Ek kan onder die moeilikste omstandighede (die hoë plekke) vas en veilig staan, want God hou my vas.

Ek kan op hoë plekke vas en veilig staan!

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kitta herbst ·

Absoluut n wonderlike vertroosting uit God se Woord!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.