Gedagte vir die dag: Alle goeie gawes kom uit God se hand!

Stiltetyd-22.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Hy [God] het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” (Handelinge 14:15-17)

God se Woord leer dat alle goeie gawes en voorregte wat ons geniet uit sy hand kom. As hemelse Pa wil Hy ons graag seën met die goeie, maar so dikwels vergeet ons om God te eer vir dit wat Hy ons gee. Soms skryf ons selfs die guns wat ons geniet toe aan iets anders as God se goedheid.

In vandag se teksgedeelte dink die mense van die stad Listra verkeerdelik dat Paulus en Barnabas die gewilde Griekse afgode Zeus en Hermes is omrede hulle wondergenesings gedoen het. Mense van die stad Listra het beweer dat die twee gode hul stad vroeër jare ook besoek het. Volgens die legende wou niemand behalwe ’n bejaarde egpaar hulle toe huisves nie. Daarom het hulle al die ander inwoners van die stad doodgemaak en die ou mense beloon. Toe die inwoners van Listra sien watter wonderwerke Paulus en Barnabas doen, was hulle oortuig dat dit weer die twee gode was wat hulle stad besoek het. Uit angstigheid het hulle gedink dat die verlede homself kon herhaal en daarom maak hulle toe ’n groot ophef van die twee apostels. Hulle wou dadelik offers aan Zeus en Hermes bring.

Paulus en Barnabas roep egter uit: “Mense wat vang julle nou aan?” en benadruk dat hulle gewone mense en beslis nie gode is nie. Paulus het aan die skare probeer verduidelik dat God die enigste lewende God is wat alles geskep het, dit steeds onderhou en uit wie se hand alle goeie gawes kom. Die inwoners het nie begryp of verstaan wat hy met die lewende God bedoel het nie. Paulus verduidelik toe dat God in die verlede toegelaat het dat nasies hulle eie koers volg deur byvoorbeeld vreemde dinge te glo. Dit het egter nie buite God om gebeur nie. Dus is dit nie ’n teken dat Hy nie oor die heelal regeer nie. Alles het deur sy toelating gebeur.

As jy dalk aan God twyfel, kyk net om jou, dan sal jy maar te duidelik sien dat Hy in die wêreld aan die werk is.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.