Gedagte vir die dag: Alles gaan verby

kaapse-wapad.jpgLees: 2 Korintiërs 4:15-18

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. (2 Korintiërs 4:17)

Tydens rampsituasies is daar een belofte wat jou eie stres kan ver minder: Niks op aarde gaan vir altyd aanhou nie. Paulus hou aan hierdie feit vas as dinge baie sleg met hom gaan. Eintlik, so skryf Paulus, is ons aardse swaarkry maar gering en tydelik, hier die stuk swaarkry waarmee ons op die oomblik worstel, gaan eendag vir ons ’n hemelse heerlikheid bewerk wat vir altyd vas sal staan.

Wanneer dit dus weer vir jou voel asof jy jou huidige situasie nie ’n oomblik langer kan hanteer nie, kyk vorentoe en dink na oor Paulus se uitspraak in ons kernvers. Hierdie situasie wat op die oomblik vir jou so onhanteerbaar lyk, gaan heel waarskynlik oor ’n paar jaar glad nie meer vir jou ’n krisis wees nie. Kyk dus vandag al daarna vanuit God se perspektief. Weet ook in jou krisis dat God altyd by jou is en dat Hy nie net beloof om jou te help nie, maar boonop vir jou die belofte gee dat Hy vir dié mense wat Hom liefhet, uiteindelik álles ten goede sal laat uitwerk. Kyk in die lig van hierdie feite weer ’n slag na jou huidige situasie en weet dat die dinge wat nou vir jou stres veroorsaak, instrumente in God se hande is. Die omstandighede wat jou vandag so moedeloos maak, sál weer verbygaan en gou ook. Hierdie situasies kan uiteindelik deur God gebruik word om jou geestelik sterker te maak en jou visie van die hemel te versterk.

Here, U weet hoe moedeloos ek vandag is. Baie dankie vir die belofte dat my huidige situasie net tydelik is, en dat u hemelse heerlikheid op my wag. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.