Gedagte vir die dag: Alles ten goede

Koringare

Foto: Revivalhut.com

‘Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.’ (Matteus 5:11–12)

Jesus het self deurgeloop onder die skerp tonge van jaloerse Fariseërs en wetgeleerdes wat Hom ’n vraat en ’n wynsuiper genoem het. Hulle kon Hom nie vasvra nie en het agteraf praatjies gemaak omdat Hy byvoorbeeld saam met tollenaars geëet het en nie aan die seremoniële handewassery voor ete deelgeneem het nie. Hulle wou hulle voordoen as onberispelik, maar die bietjie water wat ’n slaaf oor hul hande uitgegiet het, was ’n blote gebaar wat hulle natuurlik met die nodige swier uitgevoer het. Jesus het dit verafsku omdat Hy geweet het dat hul skoon hande en blink klere ’n verrotte, vuil innerlike verberg het.

‘Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!’ het Jesus uitgeroep. ‘Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid’ (Matt 23:25).

God kyk in die hart, Hy weet van elke slegte gedagte wat posvat en vlamvat en uitloop op moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, valse getuienis en kwaadpratery (lees Matteus 15:19). Dit geld nie net vir ons gewone Christene nie, maar veral ons leiers. Hoe vreeslik wanneer een van ons leiers se sondes ontbloot word en sy wêreldryk in duie stort. Die Bose lag in sy mou, want daardeur kry hy dit reg om groot getalle wat nog swak in die geloof was, te verwar en te verstrooi.

Maar ons moenie dat dit ons mismoedig maak nie. God het sy skop in die hand en Hy is besig om die kaf van die koring te skei. ‘Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is’ (Rom 8:28).

Here Jesus, maak my asseblief een van die koringkorrels, gereed vir wanneer U u oes kom insamel.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

fred ·

HERE, hou my vas in U hande, Beskerm my want vir u is daar niks onmoontlik nie. HERE ek behoort aan U, Daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U. U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang kom alles van U af. Laat my asb. ook een van die koring korrels wees. Ek is life vir U.

ROSE ·

AMEN
LAAT ONS ALMAL BID EN MEER KORING KORRELS VERSAMEL VIR DIE BRUILOF VAN DIE KONINGKRYK.
DANKIE ONSE VADER, ALMAGTIGE VIR U LIEFDE.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.