Gedagte vir die dag: Alles wat nodig is

reenboog_veld_stiltetyd_Uganda_Marco-Brits.jpg

Foto: Marco Brits (Apoka Safari Lodge, Uganda)

Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. (2 Petrus 1:3)

Ek is baie lief vir kosmaak. Boonop is ek een van daardie kokke wat ’n resep tot op die laaste korreltjie suiker en splintertjie botter volg. Ek maak altyd doodseker dat ek alles het wat nodig is, en dan spring ek aan die werk en leef my behoorlik uit.

My man hou ook baie van kosmaak. Maar hy volg ’n resep net tot op ’n punt – en dan kry die kreatiewe kok in hom die oorhand. Die voorgeskrewe hoeveelhede en bestanddele is dan bloot ’n voorstel …

Vroeg-vroeg in ons verhouding het ons op ’n dag besluit om ’n kaaskoek te bak. Ons is winkel toe en hy het gaan kry wat nodig is. Die res van die bestanddele, het hy my verseker, was by sy huis. Daar aangekom, het ek solank begin om die bestanddele uit te pak. Die resep het aangedui dat daar ’n blok sjokolade moes wees. Ek het deur sy kaste begin krap, oral gesoek – geen sjokolade nie. Hy het dan gesê hy het alles …

Toe ek hom daarna vra, het hy sy skouers opgetrek en gesê: “Ek gaan my eie sjokolade maak.”

Ek was maar skepties en het bloot gedoen wat hy sê. Elke af en toe het ek na die resep geloer, en dan opnuut besluit om eerder net sy opdragte uit te voer. Dan kon ek hóm uiteindelik die skuld gee as die kaaskoek ’n flop is.

Ek het gekyk hoe hy ’n sjokoladesous in ’n potjie laat prut terwyl ek solank die krummels vir die kors fyngemaak het. Daarna het hy die beslag aangemaak – en einde ten laaste ’n wonderlike, dik sjokoladesous daaroor gegiet. Ek het die oond oopgemaak en hy het die pan ingestoot.

’n Uur later was die kaaskoek reg. En tot vandag toe onthou ek daardie kaaskoek; dit was een van die lekkerstes wat ek nog ooit geëet het.

In 2 Petrus 1:3 gee die apostel ons hierdie wonderlike versekering: “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” Paulus skryf in 2 Korintiërs 9:8: “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”

Dikwels voel dit asof ons nie genoeg het om regtig te lééf nie. Asof ons te min tyd, liefde, wysheid en geduld het om die Here elke dag met ons hele hart te dien. Ons wil uitroep: “Ek het beslis nie al die dinge wat nodig is om te kan bydra tot die goeie werk nie!”

Maar dis nie waar nie. En ’n dankbare hart weet dis nie waar nie. Dankbaarheid laat jou besef dat jy wel genoeg ontvang het. Dat God se belofte waar is en dat sy krag ons alles gegee het wat nodig is om Hom te dien. Al lyk dit nie so nie. Al voel dit asof sekere bestanddele ontbreek.

’n Dankbare hart weet ook dat Hy ons die régte bestanddele gegee het om ons lewe ’n heerlike getuienis vir Hom te maak. Dit alles kry ons reg wanneer ons Hom leer ken en op Hom vertrou, soos die res van 2 Petrus 1:3 ons leer.

Al wat ons moet doen, is om sy leiding te volg. Dit bly ’n wenresep.

Here, dankie dat U ons alles gee wat nodig is om U te dien. En alles is só reg!

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.