Gedagte vir die dag: Allesweet

Pad_vurk_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Romeine 1:18-25

Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is … (Romeine 1:21-22)

Daar is voorwaar niemand wat so min weet soos hulle wat nie weet hoe min hulle weet nie. Hulle leef in die gekkeparadys wat “Selfbedrog” genoem word.

Paulus vaar uit teen sulke mense, veral ook omdat hulle ver- onderstel is om van beter te weet. Hulle weet van God, maar hulle aanbid Hom nie. In plaas van die lewende God te eer, bou hulle beelde (vgl. v. 23). Die ware kennis van God is binne hul bereik, maar hulle reken dat hulle reeds alles weet.

“Allesweet” is ’n nare god wat geen uitsonderings of afwykings verdra nie. Dit is ’n afgod wat vrae haat en onsekerheid verag. Wat van uitroeptekens ’n altaar gemaak het waarop aanbidders uitbundig moet offer.

Daarenteen word die ware kennis van die ware God uitgedruk in beskeie verwondering oor sy werke in die skepping en sy stille teenwoordigheid in jou lewe. Dit is ’n durende dankbaarheid omdat jy sy koesterende hande raaksien. Omdat jy geen begeerte het om Hom te verduidelik of te verdedig nie; sy troostende Godwees in jou lewe is voldoende getuienis vir enigeen wat wil sien. Jy weet jy is nie verantwoordelik vir diegene wat Hom nie wil ken nie; hulle is God se saak. Hy sal met hulle handel soos en wanneer Hy wil. Dit is ook nie jou taak om hulle te veroordeel nie. Dit is eweneens God se werk, wat Hy ook al met hulle beoog.

Sorg jy maar net, gelowige, dat jy altyd liefde en deernis aan jou medemens bewys. Jy is nie beter as hulle nie; jy is bloot buitengewoon begenadig.

Die bietjie wat ek van U weet, Here, is genoeg. Dit maak my baie bly.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.