Gedagte vir die dag: Almal raak soms moedeloos

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Lees: 2 Korintiërs 4:7-15

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie. (2 Korintiërs 4:7-8)

Die belofte wat my persoonlik die meeste onderskraag in swaarkrytye, is die feit dat God by my is, dat Hy my nooit alleen sal los in krisissituasies nie. Ten spyte hiervan raak ek, soos al God se kinders ook soms moedeloos en radeloos.

Vandag se kernverse in Die Boodskap laat my altyd glimlag omdat Paulus sy persoonlike gevoelens so presies verwoord: “Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op” (2 Korintiërs 4:7-9).

As jy weer moedeloos word juis omdat jy ’n doodgewone mens is, skep moed en hou vas aan die feit dat jy God se krag in jou ronddra, dat Hy jou moed en raad sal gee wanneer jy die dag nie meer verder kan nie. Omdat Hy jou nooit alleen sal los nie, sal jy dit met sy krag tot jou beskikking dit elke keer regkry om weer op te staan.

Here, ek loof U vir u wonderwerkende krag in my lewe wat dit vir my ten spyte van my menslikheid, elke keer weer moontlik maak om op te staan as die lewe my op my knieë dwing. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.