Gedagte vir die dag: Almal soek na God

gemsbok_and_dunes.jpg

Foto: Marianne Styan

Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn? (Psalm 42:2-3)

Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind. (Psalm 63:3)

Navorsing het bewys dat die mens ’n God-kol in sy brein het wat tussen die frontale lobbe geleë is. Hierdie deel van die brein word geaktiveer wanneer ons met geestelike sake besig is. Dit is asof God ons liggame so geskep het om na Hom te soek en te hunker. Selfs ongelowiges het hierdie soeke in hulle – dit is soos ’n leemte binne jou wat net God kan vul en niks of niemand anders nie. Party mense dink ’n geliefde, drank, dwelms, seks, “shopping” of so iets kan die leemte vul, maar net God kan ons laat heel voel en die hunkering in ons stil. Die psalmdigter van Psalm 42 vergelyk hierdie soeke na en afhanklikheid van God binne ons met dié van ’n wildsbok wat dors na water. Net so is ons van God afhanklik.

Soms voel dit of God ver van ons af is, maar ons moet ongeag hierdie gevoel steeds aan Hom vashou. Al voel dit of Hy nie daar is nie, is Hy steeds by ons. Bly op God vertrou selfs wanneer vertwyfeling dreig.

Ons moet soos die digter God bly soek en nie rus voordat ons verhouding met Hom herstel is nie. In verlate oomblikke moet ons soos die psalmis dink aan al die seën wat die Here oor ons lewe uitgestort het, dan sal ons tot die besef kom dat Hy al die tyd by ons was en is. Al was die psalmdigter diep bedruk, het hy tog besef dat hy nooit van God se liefde weggeruk kan word nie.

Pas hierdie stappe toe as dit weer vir jou voel of jy ver van God af is en Hom nie kan vind nie, dan sal jy opnuut sien waarom jy Hom altyddeur mag loof en prys. Psalm 63 beklemtoon dieselfde boodskap: soos die wild na water soek en smag, soek die psalmis met sy hele wese na God. Hy wil by God in sy heiligdom op Sion wees. Daar is hy nie net veilig nie, maar ondervind hy ook die weldade wat God deur sy mag en grootsheid vir sy volgelinge gee.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lena Jonk ·

God is by en met elkeen van ons. Mense wat so met Hom die spot dryf het ook maar n hunkering want hulle lees dan al die artikels en skrywes en antwoord daarop, daar diep is iets wat pla. Ons God laat nie met Hom spot nie Hy lag vir hulle. Ek sal Hom altyd loof en prys want Hy het al groot wonderwerke vir ons gedoen. Loof en prys ons God.

LATIE ·

ek soek nie na God nie ek soek na Elohim MY Vader HalleluYAH.

Susan ·

Ingelsman, daar buite loop so baie mense met deurmekaar of vuil of stokkerige hare rond. Ek is dood seker dat mense net praat van haarkappers, maar dat jy nie so iets soos n haarkapper kry nie, want hoekom lyk hulle dan so? Dieselfde met die Here, of jy glo of nie, vee nie Sy bestaan uit nie. Wonderlikste van alles, haarkappers moet jy betaal, die geskenk van verlossing kom verniet, jy moet dit net vat. Elke dag is net genade en elke dag is n kans om die Here as jou Verlosser te aanvaar, maar as jy jou asem uitblaas sonder die Here in jou lewe is jou kans verby. Mag die Here die blinheid waarmee satan jou verblind wegneem en mag jy soos daai wildsbok smag om in n verhouding met die Here te wees.

SNEL ·

Ja, ek stem met Spook, die titel pas nie so lekker nie. God is altyd daar, Hy staan by die deur en Hy klop en wag dat ons moet oopmaak, maar ja, almal smag na n god, dit moes eerder die titel gewees het. Die wat nie in God glo nie, skep hulle eie god, maar almal dien iets, of dit nou jyself, geld, rugby, jou kinders of wat ookal is, dit wat die belangrikste in jou lewe is is jou god, maar die Lewende God is beslis oral en sien alles en almal, al gaan ons ook maan toe, Hy is daar, niks kan vir Hom verberg word nie, en weg of dat dat ons Hom soek is verregaande, Hy soek ons, Hy soek ons as Sy kinders, Hy soek n verhouding met ons, Hy soek ons aanbidding, liefde en gehoorsaamheid. n Wildsbok smag na water, so moet ons smag om meer van God te leer en nader aan Hom te beweeg deur Sy Woord, om in n hegter verhouding met Hom te staan, maar Hy is om en by ons. God is liefde, Hy het selfs die lief wat nie in Hom glo nie en Hy wag en vertraag Sy koms, want Hy wil nie sien dat een verlore gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.