Gedagte vir die dag: Almal stoei maar

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Foto: Suné van Heerden

Ek sal hulle hart wat nou van klip en yster gemaak is, wegvat en vir hulle ’n hart gee wat van vleis gemaak is sodat hulle My reg kan dien. (Esegiël 11:19, Die Boodskap)

Ons natuurlike aard is om ander met ’n vergrootglas te beoordeel, gou die slegte in hulle raak te sien en hul foute uit te wys. Ja, ons het maar almal so ’n stukkie kliphart in ons. Wanneer jy jouself betrap dat jy nie met algehele liefde na iemand kan kyk nie, dink dan aan die volgende:

  • Elke mens op aarde probeer ook maar net op sy/haar ma nier die lewe leef, oorleef en die beste maak van sy/haar omstandighede. Miskien moet ons nie te hard oordeel nie.
  • Mense sal oor die algemeen nie doelbewus ander seermaak of benadeel nie. Dalk is ons soms net so ’n klein bietjie té sensitief vir ander se optredes.
  • Wanneer mense nie in mekaar se skoene gestaan en geloop het nie, kan hulle nie ander se harte regtig verstaan nie. Kom ons onthou dit wanneer ons na ander kyk.
  • Ons kan dikwels groot foute maak deur aannames te maak, en te dink ons weet wat ander bedoel of sê. Kom ons besluit om liewer seker te maak dat ons reg verstaan.

Sien vandag elke ander mens as iemand wat ook maar net oorleef, nie ander wíl seermaak nie en dalk nie begrip vir jou kán hê nie. En gaan gee jy dan maar net weer … die liefde.

Almal is nie liefde nie, maar ek wil wees, Here.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.