Gedagte vir die dag: Almal wat in Hom glo

uitgestrekte_hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. (Johannes 1:11, 12)

Wanneer Johannes Jesus se bediening terugskouend in oënskou neem, som hy dit treffend met die woorde van ons teksvers op. Jesus het na sy eie mense toe gekom. Matteus het Jesus se geslagsregister deeglik uitgelê (Matteus 1:1-17). Jesus self het dit ook duidelik gestel dat Hy in die eerste plek gekom het vir die huis van Israel. Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur” (Matteus 15:24, Bybel in Afrikaans 1983/1992). En alhoewel Jesus die Kanaänitiese vrou se geloof met die woorde getroef het, was Israel tog sy eerste prioriteit.

Helaas, sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Hulle het Hom keer op keer verwerp aangesien hulle ʼn politieke leier tot hulle voordeel verwag het. Hulle het Hom verwerp tot by sy kruisdood.

Dan kom Johannes by die groter doel van Jesus se lyding en sterwe. Dit gaan oor ʼn wêreldvisie. Nie net Israel nie, maar almal wat Hom aanneem en in Hom glo, is kinders van God. En juis daarom ook ek en jy!

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kryger ·

So sê Hy dan ook in die boek Hosea: Hulle wat nie my volk is nie, sal Ek roep om my volk te wees, en haar wat geen liefde ontvang het nie, om my geliefde te wees.
Rom. 9:25

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.