Gedagte vir die dag: Altyd gereed

Donker_vallei_woud_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Matteus 24:43-44

“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees …” (Matteus 24:43-44)

“Soos ’n dief in die nag.” Só lui die spreekwoord wat aan Matteus 24:43 ontleen is. Dit is boonop Jesus se eie woorde, soos deur Matteus gerapporteer.

In ’n samelewing wat reeds erg getraumatiseerd is deur huisrooftogte wat in die donker plaasvind terwyl die inwoners lê en slaap, val hierdie twee duisend jaar oue metafoor dalk nie in almal se smaak nie. Maar dit is dalk juis die skokwaarde daarvan in ’n tyd soos dié wat die erns van Jesus se “wees altyd gereed” behoorlik in gelowiges se ore laat opklink.

Gelowiges, ja. Want Jesus praat hier op die Olyfberg met sy dissipels wat alleen na Hom toe gekom het en Hom oor hierdie dinge uitgevra het (vgl. Matt 24:3). Ongelowiges sal hulle nie vermoei met werklikhede soos Christus se weerkoms nie. Hulle stel doodgewoon nie daarin belang nie.

Dit is dus gelowiges, koninkrykskinders, wat die vermaning moet aanhoor én hulle dié vraag moet afvra: Hoe is dit om “altyd gereed” te wees? Jy kan tog nie heeldag en aldag kop in die lug rond- loop om die Koms op die Wolke betyds te probeer raaksien nie, of hoe? (vgl. Matt 24:30).

Dalk lê ’n belangrike deel van die antwoord in die einste beeld wat Jesus gebruik; dalk lê dit nóg nader aan die huis as wat ons dink. Dalk moet gelowiges allereers hul eie huis beveilig voordat hulle dit waag om markplein toe te gaan om ander mense te vermaan. Jesus het sy volgelinge immers gewaarsku teen die sekerheid dat jou saak met God reg is, wat jou dan op ander laat neersien (vgl. Luk 18:9). “Altyd gereed wees” is waarskynlik nie die onderwerp van ’n vuur-en-swael-preek nie; dit is die diefwering voor jou eie vensters.

Leer my, Here, om na my huis en die mense daarin om te sien.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here U weet dat die diefwering voor my vensters nie voldoende is nie….ek kom tree in vir bekering vir elkeen van my geliefdes…U ons ewige Redder en Verlosser

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.