Gedagte vir die dag: Altyd iets in Sy Hand      

woud_pad_stilte_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig. (Psalm 16:11, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

Die Bybel in Afrikaans 1933/1953 is soms so pragtig soos dit die Hebreeuse poësie amper letterlik in Afrikaans oorsit. Hoor hoe digterlik klink hierdie vers! Dit is die klimaks en hoogtepunt van hierdie mooi lofpsalm, waarin Dawid so intiem en naby aan die Here voel. Hy beskryf God se oorvloed in sy lewe in drie gedagtes:

  • God leer hom die lewenskuns. God wys hom die pad van ’n diep, egte en oorvloedige lewe sodat hy dit kan stap.
  • God maak sy vreugde “versadig”, dit wil sê volkome, kompleet. Dawid het amper geen vreugde oor nie, buiten dit wat hy in die Here beleef … Watter oorgawe!
  • God gee aan hom alles wat goed en mooi is – “lieflikhede” is in sy regterhand, die hand wat gee. Een kommentator skryf: God se regterhand is nooit leeg nie. Laat ons dit tog net raaksien!

As ons ons maar so in God kon verlustig soos hierdie man so na God se hart! Dan sou ons lewe elke dag ’n fees wees.

Here, ek wil ook so oorgegee aan U leef – ook daagliks oor u “lieflikhede” jubel. Amen.

Bron:
Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Dankie….Die Gedagte vir die dag,was nog elkekeer …Net vir my,so nodig,so gepas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.