Gedagte vir die dag: Ampsgroet

mense_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wees net gehoorsaam aan die Here en dien Hom opreg en met julle hele hart. Let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word. (1 Samuel 12:24-25)

Samuel lê hier sy amp as praktiese regeerder van die volk neer. Soos ’n suksesvolle uitvoerende bestuurder onder wie ’n maatskappy goed gevaar het, besef hy nou ook dat dit tyd geword het om terug te staan vir ’n ander. Uit sy rede blyk dit dat hy onrustig is – hy ken immers sy “maatskappy” – en hy vermaan hulle om “gehoorsaam” te wees aan “die Here” en Hom “opreg” te dien.

En dan volg die onheilspellende waarskuwing: “Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word.” God bly immers die God van geregtigheid. Die nadruk val egter op “opsetlik”: as hulle dus deeglik daarvan bewus was dat wat hulle doen die Here se eer mag aantas en hulle gaan nogtans daarmee voort, sonder eens ’n rimpeling van ’n wroeging, het dit ’n prys.

Samuel sou nog daar wees om raad te gee en hy sou nog ’n paar geweldige take vir die Here uitvoer, maar bloot as “ouer staatsman” of ouderling, wyse en profeet van sy mense. Vir ’n oomblik het die volk na die grys ou man geluister wat van sy moederskoot af in diens van God gestaan het, en wat ver gesien het. En dit sou vir eers goed gaan voordat die krake begin kom.

Maar Samuel praat ook met my en jou. Nie dat ons onsself as groot regverdiges aan gene en dese voorstel en ons bluf dat ons God dien nie, maar dat ons so opreg as wat ons kan die Here vra om sy gedurige Teenwoordigheid en dat Hy ons insig sal gee, en dat ons dit met Hom kan waag, tree vir tree.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.