Gedagte vir die dag: Anderkant die kruis

Kruis_2.jpg

Foto: jumonville.wordpress.com

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Joh 3:16-17)

Johannes – die einste Johannes wat so graag aan Jesus se linker- of regterhand wou sit, wat so gesteld was op sy eie self verwesenliking – praat hier ’n heel ander storie as voor Jesus se kruisiging. Christene moet bereid wees om hulle lewe tot die voordeel van hul medegelowiges af te lê, sê hy. As ons by die nood van ander mense verbykyk en hulle nie help nie, beteken dit net één ding: ons het nie die liefde van God in ons lewe nie.

Johannes het ná Jesus se kruisdood ’n belangrike ontdekking gemaak: hy weet nou dat eintlike selfverwesenliking net langs die weg van selfverloëning bereik kan word. Selfverloëning beteken om dié mens te wees wat God wil hê jy moet wees: nederig en diensbaar vir ander, met ’n oop hand en ’n oop hart vir die behoeftes van jou medegelowiges.

As jy werklik vir God diensbaar wil wees, kan jy Johannes gerus tot voorbeeld neem. Dan sal jy ook bereid moet wees om iets daadwerkliks te doen vir ander. Ware liefde is nooit net ’n mooi teorie nie, maar altyd ’n daad. Ook jy moet bereid wees om jou liefde vir God te bewys in goeie dade aan ander. Hoe lyk dit, sien jy kans?

Here Jesus, leer my hoe om my liefde vir U in dade om te sit sodat ek in ander se behoeftes kan voorsien. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.