Gedagte vir die dag: Antwoord die eerste keer

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Foto: Suné van Heerden

Die HERE het ’n tweede keer met Jona gepraat. (Jona 3:1)   

Dit is soveel makliker om aan die Here gehoorsaam te wees as om voortdurend vir Hom te vra om jou te vergewe. Dikwels beland ons in groot moeilikheid net omdat ons nie God se stem gehoorsaam nie.

Wanneer ek terugkyk op my eie lewe, onthou ek dat ek op ’n altaaroproep gereageer het toe ek omtrent ses jaar oud was. Maar weens al die versoekings in die wêreld het ek van sy pad af weggedwaal. Eers op 18 Februarie 1979 het ek na God toe teruggekeer. As daar een ding in my lewe is waaroor ek spyt is (en daar is nie baie nie, kan ek jou verseker), is dit dat ek nie die eerste keer na God se roepstem geluister en aan Hom gehoorsaam was nie. Dit sou my soveel pyn gespaar het.

Dit is wat met Jona gebeur het. As Jona maar net die eerste keer aan die Here gehoorsaam was, na Nineve gegaan en die boodskap van die Here verkondig het, sou dit nie nodig gewees het dat hy deur die beproewing moes gaan om drie dae in die maag van ’n groot vis te sit nie. Hy sou ook die spyt en skaamte oor sy ongehoorsaamheid gespaar gewees het. Nietemin, die belangrikste feit hier is dat Jona, uiteindelik, tog gehoorsaam was.

Wanneer God jou roep om iets vir Hom te doen – dit kan wees om iemand te vergoed vir wat jy aan hulle gedoen het – gaan en doen dit. Doen dit sodat jy kan aangaan met jou lewe. Selfs al het God reeds jare gelede vir jou gevra om iets te doen, doen dit nou terwyl daar nog tyd is. As jy die res van Jona 3 lees, sal jy sien toe Jona na die stad Nineve gegaan het, het hy ontdek die stad is so groot dat dit hom drie dae geneem het om deur die stad te stap. Hy het die boodskap van die Here verkondig en die koning en al die mense het die Woord van die Here gehoor en hulle bekeer. Die Here het gevolglik die hele stad gered.

God het jou met ’n spesifieke doel geroep en Hy roep jou vandag weer om die taak te voltooi wat Hy op jou hart gelê het, nie net ter wille van die evangelie nie, maar ook ter wille van jou en jou gemoedsrus. Mag God jou seën wanneer jy vandag uitgaan en aan Hom gehoorsaam is. Dit bring soveel blydskap, soveel vrede en soveel vergenoegdheid.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.