Gedagte vir die dag: Antwoord Jesus  se gunsteling vrae reg

namakwa_kokerboomwoud_annelize-brits_stiltetyd.jpegJesus sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” (Matteus 16:15)

Jesus het voortdurend vrae gevra om mense te laat nadink. Onthou jy vrae soos: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?” (Mark. 4:40). Of: “Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy ly skade aan jou diepste menswees?” (Matt. 16:26). Of daardie een in Matteus 16:15: “Wie sê julle is Ek?”

Die antwoord hierop kan jy net met jou eie lewe beantwoord. Hierdie vraag roep jou op tot ’n belydenis. Jesus se uitdagendste vraag aan Petrus kort nadat hy Hom verraai het, is: “Het jy My lief?” (Joh. 21:17). Wat sou jý hierop geantwoord het? Weer is die regte antwoord hierop een wat met jou lewe beantwoord word, nie net met jou woorde nie. Sekere vrae besit selfs ’n krag wat nie slegs opgesluit lê in die antwoord self nie. Of soos die filosoof Elie Wiesel dit stel: “They possess a power that does not lie in the answer.” Hierdie tipe vrae is Jesus se gunsteling vrae. Mense wat reg hierop antwoord, is ook sy gunsteling mense. Hulle antwoord reg deur Hom te volg met hulle hele lewe. Hulle is self die antwoord op sy heel grootste vraag.

Bron: ‘n Veilige Vesting deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here dat ek deur U oe na mense sal kyk en besef U genade is vir my genoeg….Almagtige God en Vader ek wil nerens anders wees nie..dankie vir soveel onverdiende seen..Amen

FM ·

Here, ek wil U getuie wees, sonder woorde met my hele lewe.
Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.