Gedagte vir die dag: Appel van my oog

(Foto: Unsplash)

Beskerm my soos die appel van u oog. Bedek my in die skadu van u vlerke. (Psalm 17:8)     

Die Here het jou baie lief. Onthou jy die nag in Getsemane? Toe die hoofpriester se soldate vir Jesus gesoek het, sê Jesus in Johannes 18:8: “Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is. As julle Mý dan soek, laat hierdie mense wat saam met My is, weggaan.” Die Here beskerm ons altyd. Die Here is ons plek van veiligheid.

Dit laat my dink aan die pragtige verhaal van ’n rondreisende prediker, ’n cowboy. Hy sou met sy perd ry en die evangelie aan die mense van die platteland verkondig. Eendag het daar ’n geweldige storm opgesteek. Hy het die saalkombers oor sy kop getrek en gewag vir die storm om verby te trek. Terwyl hy geslaap het, het hy gedroom hy is dood en dat die engel van die Here by hom staan met die Boek van die Lewe in sy hande. Die engel kon egter nie sy naam in die boek kry nie; daarom het die cowboy daarop aangedring om vir God te sien.

Die engel het die cowboy toe maar saamgeneem hemel toe. Hy het die cowboy tot in die troonsaal van God geneem. Daar het hy ’n stem soos ’n donderende waterval gehoor: “Wie is jy en wat wil jy hê?” Dit was God self wat gepraat het. Die cowboy was vreesbevange. Net toe hoor hy voetstappe agter hom. Sterk hande het hom opgetel en ’n sagte stem het gesê: “Alles is reg, Vader. Dit is my vriend.”

Jesus het jou baie lief. Hy sal jou nooit alleen laat nie. Hy sal jou nooit in die steek laat nie. Hy is ’n vriend, jy hoef nooit alleen te voel nie.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.