Gedagte vir die dag: Argumente of gehoorsaamheid?

Vrou_water_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, … (2 Korintiërs 11:3)

Eenvoud is die geheim daarvan om dinge duidelik te sien. ’n Heilige dink nie helder voor ’n lang tyd verstryk het nie, maar behoort helder te sien sonder enige probleem. Jy kan nie sake deurdink om geestelike verwarring op te klaar nie; om sake te verhelder moet jy gehoorsaam wees. Jy kan intellektuele sake logies deurdink, maar in geestelike sake dink jy jouself net dieper in dwalende gedagtes en verwarring in. As daar enige area in jou lewe is waarop God begin druk toepas, gehoorsaam Hom dan daarin. Bring al jou redenasies en gedagtes tot gehoorsaamheid aan Christus betreffende die saak en alles sal vir jou so helder soos daglig word (vgl. 2 Kor. 10:5). Jou redenasievermoë sal later kom, maar dit is nie die middel waardeur ons sien nie. Ons sien soos kinders, en wanneer ons probeer slim wees, sien ons niks nie (vgl. Matt. 11:25).

Selfs die allerkleinste dingetjie wat ons in ons lewe toelaat, en wat nie onder beheer van die Heilige Gees is nie, is heeltemal voldoende om geestelike verwarring te veroorsaak. En al bestee ons al ons tyd om daaroor na te dink, sal dit sake nooit ophelder nie. Geestelike verwarring word slegs oorwin deur gehoorsaamheid. Sodra ons gehoorsaam, kom die onderskeiding. Dit is vernederend, want wanneer ons verward is, weet ons die oorsaak daarvan is in ons verstand en gedagte. Maar wanneer ons natuurlike kwaliteite toegewy is en in gehoorsaamheid onderwerp is aan die Heilige Gees, word dit juis die mag waardeur ons God se wil onderskei en ons hele lewe word in eenvoud onderhou.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.