Gedagte vir die dag: As God verskyn

son_hoop_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 114

Bewe, aarde, as die Here verskyn, as die God van Jakob verskyn … (Psalm 114:7)

Die skepping beweeg as die Skepper verskyn! sing die psalmdigter. En wie sal dit waag om hiér ’n vals noot te laat hoor? Die Here het tog nog altyd voor sy mense uit getrek. Hy trap die spoor, en hulle volg. Waar Hy sy voet neersit, daar bewe die aarde. Nie een van sy aanbidders sal hieroor stry nie.

Maar vergewe tog die hedendaagse navolgers hul meewarige, skeptiese, selfs siniese glimlaggies: ’n Mens moet darem realisties bly, sê hulle. Die werklikheid voor oë hou. Gelowiges, sug hulle, is darem nie naïef nie.

Toe ontwikkel hierdie moderne beterweters ’n eie woordeskat en word “die skepping se gebrokenheid” hul skuilplek, en “die mens se sondige natuur” hul eerste verweer. Hulle het “broosheid” ’n teologiese konstruksie gemaak en “deernis” tot ’n foeitogwoord laat vervlak.

Hul reaksie op lof aan God dra immer ’n “ja, wel …”-stempel. Daarom is psalms soos dié vir hulle ’n verleentheid en blaai hulle dikwels vinnig daar verby. Gaan hulle op soek na soberder, beter geankerde en meer verantwoordbare lofbetuigings.

En só gee hulle die verbysterende Psalm 114-beeld van berge wat soos ramme rondspring en rante wat soos lammers baljaar, prys. Verloor hulle die uitgelatenheid van mense wat bloot baie bly en ongebreideld dankbaar is oor God se teenwoordigheid. Misken hulle die moontlikheid dat selfs suurknolle soos hulle maar ’n huppel in die stap mag hê en ’n glimlag kan vertoon wat hul oë bereik. Oorweeg hulle nooit die moontlikheid van ’n vrolike God nie.

U is groot, Here ons God! U speel met kleintjies soos ons. U maak ons só gelukkig!

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.