Gedagte vir die dag: As iemand jou roep

aand_sterre_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, en Eli  sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!”. (1 Samuel 3:8-9)      

Met die Heilige Gees wat kragtig uitgestort is op die biddende gelowiges in Jerusalem vergeet ’n mens dat die Gees van God reeds in die Ou Testament opgetree het. Dit was egter slegs in individuele gevalle, soos by die roeping van ’n profeet of ’n koning. Dit was ’n nou paadjie van openbaring wat na die groot “uitstorting” sou lei, maar God se plan loop dikwels langs nou paadjies. In die boek Samuel word ’n paar keer gepraat van die Gees van God wat oor iemand “vaardig” word (1 Sam. 10: 10, Bybel in Afrikaans 1933/1953).

In 1 Samuel 3 roep die Here, ’n mens aanvaar dis die Gees van die Here, maar Samuel “het nog nie die Here geken nie”, want hoewel hy in die tempel gehelp het, was “die woord van die Here nog nie voorheen aan hom geopenbaar nie” (v. 7). Samuel is nog nie ’n profeet nie, maar nou het die Here besluit die tyd is reg. Hy praat nie met die kerkman van sy tyd nie. Hy praat met ’n seun.

Daar kom soms vreemde tye in die ontwikkeling van God se koninkryk. Daar kom soms vreemde tye in die ontwikkeling van ons as sy kinders, van sy kerk en sy mense. ’n Oordeel word aangekondig oor die priesterhuis van Eli en sy seuns, omdat Eli die korrupsie in die tempel toegelaat het. Uiteindelik moes Samuel dit vir Eli sê en ’n mens kry die ou man jammer.

As God dan nie deur sy gesoute kerkmense kan werk nie, werk Hy deur ’n seun. Die Here bly waak oor sy mense en Hy waak veral oor sy plan, sy plan wat steeds voortgaan tot by die koms van Christus en verder. Ons is ook deel van sy plan. Ons moet elke dag biddend sê: “Praat met my, Here. Ons wat U wil dien, luister.”

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.