Gedagte vir die dag: As jy deur diep waters gaan

see_storm.jpg

Foto: thefamouspix.com

Van bo af het Hy sy hand na my toe uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. (Psalm 18:17)

Alles is nie altyd so maklik nie. Ek het vandag weer nie moed of energie om op staan nie. Ek wil die komberse oor my kop trek en slaap, maar ek kan nie slaap nie. Dit trek my af – die uitputting, die swartgalligheid en die wanhopigheid. Ek weet nie of dit nag of dag is nie, ek stel ook nie belang nie, ek verdrink in ellende. Moenie naby my kom nie. Moenie bel nie, my selfoon is af. Moenie klop nie, ek sal nie oopmaak nie. Los my alleen.

Depressie. Het jy dit al so beleef?

Dawid skryf dikwels van nagte toe hy met die Here geworstel het, dae toe hy nie geëet het nie en sy liggaam uitgeteer het van skuld en godverla­tenheid. ‘Ek voel so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn, soos ’n uil tus­sen murasies. As ek wakker word, voel ek soos ’n eensame voël op ’n huis se dak’ (Ps 102:7–8).

Depressie word vandag gediagnoseer as die siekte van ons tyd, maar dit kom van ver af, ook die oorsake. Soms is dit sonde en skaamte wat dit aan­bring. Maar onthou dan, die Here is lief vir jou, Hy sal Hom nie verhef bo jou pyn en selfverwyt nie, Hy sal na jou toe afbuig, jou nadertrek en troos: ‘Hy het my uitgetrek,’ sê Dawid, ‘uit die put van die dood, uit die slymerige modder en my weer op vaste grond laat loop’ (Ps 40:3).

Depressie het baie oorsake. Dit kom ook van chemiese wanbalanse en dis miskien onregverdig om vir iemand wat depressief is, te sê: ‘God het jou lief. Hy wil jou uit hierdie diep waters optrek.’ Sê dit nogtans, nie om te verwyt en te bestraf nie, maar om te troos. Bid namens hom, selfs sonder sy medewete. Begin vandag, want môre is dit dalk te laat.

Here, ek dra vandag almal aan U op wat moedeloos is en stadig in die put van depressie afsak. Gee dat hulle betyds sal opkyk en U sien.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Babbelbek ·

Vandag voel ek so… moenie met my praat nie ek wil nie terug praat nie moenie eers vir my kyk nie wil net die kombers oor my trek… maar ek weet daar is een God wat kan help maar dit lyk so onmoontlik bid asseblief vir my…..

Ano ·

Het hierdie versekering van God se liefde vandag so verskriklik nodig. Ek WIL nie meer aangaan nie.

omgee ·

Ek wil graag se daar is so baie mense wat deur hierdie dieptes gaan. Dit voel asof niemand verstaan waardeur jy gaan nie. Ek klou aan die storie waar die Here vir Petrus gese het loop op die water na my toe. Petrus het dit reggekry totdat hy sy oe na die storms van die lewe gedraai het, toe het hy begin twyfel en sink. As ek so voel het ek agter gekom ek het my oe van die Here af en ek kyk na die storms om my. Fokus op God liewe mens, smeek tot Hom vra Hom en vertrou Hom. Ek dink en bid vir ons almal.

Liena ·

More Babbelbek, ek het ook al so gevoel, mens voel die hele wereld is teen jou ens. maar onthou jy is nie alleen nie, praat met Jesus, als is moontlik. Hy luister, en onthou elke dag is ‘n nuwe dag, gister is verby. Ek kom deur my depressie om te dink dat ek elke nuwe dag ten volle gaan aanpak, die verlede sit ek agter my. Sterkte, dink aan jou.

Stephanie ·

Dankie Maroela vir vandag se “Gedagte vir die Dag”
Ek moet eintlik glad nie “down and out” voel nie, want my probleem is nie van so n ernstige aard nie. Dis slegs n geval van my motor, wat stukkend was en nou herstel is, maar ek het nie op die oomblik die geld om dit te betaal nie, dus “stress” ek nou sommer lekker.
Ek wou hier sit en myself jammer kry en sommer begin huil, maar het gelukkig besef daar is baie ander met werklike probleme wat hulle onder kry en bang/desperaat maak.
Dankie Here dat my probleem net n tydelike ongerief veroorsaak. Dankie vir die dak oor my kop, kos in my kas en vir my gesondheid.
Dankie dat ek weet U is lief vir my en dat U my sal dra deur enige iets wat ekself voor te swak is om te hanteer.

MJ ·

Ja . soms lyk dit asof niks meer sin maak nie. Maar ek vertrou op God. ek aanskou die berge, die mens en dan besef ek God weet waardeer ek gaan .So ek sal nooit ophou bid nie, want ek weet Hy is langs -voor en agter my en sal my hierdeur dra.Bid sonder ophou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.