Gedagte vir die dag: As versoekings aan jou deur klop

See-strand-Nathan-Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Lees: 1 Korintiërs 10:1-13

Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. (1 Korintiërs 10:13)

Die Engelse gesegde “Life is not a rose garden” is baie waar. Die lewe kom met baie krisisse en versoekings waarteen ons elke dag moet baklei. Christene kan hierdie krisisse egter aanpak met die wete dat God by hulle is en dat Hy nie sal toelaat dat enigiets buite sy beheer met hulle sal gebeur nie. Daar sal dus nie ’n versoeking oor ons lewenspad kom wat ons nie saam met Hom sal kan oorkom nie. Ons het wel baie genade nodig om ons probleme in die gesig te kyk. Jesus waarsku ons dat daar swaarkry vir ons wag – net soos Hy ook swaarkry in die wêreld ondervind het, maar Hy troos terselfdertyd: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Johannes 16:33).

Jou swaarkry van die oomblik sal jou geloof en vertroue in God versterk mits jy aanhou om op Hom te vertrou. As dit weer sleg gaan, weet dat alle dinge in jou lewe onder God se beheer is. Die feit dát God in beheer van jou lewe en omstandighede is, beteken Hy sal vir jou onderneem mits jy gewillig is om Hom te volg en nie langer daarop aandring om jou eie kop te volg nie. Jy kan nou maar rustig raak, Hom toelaat om jou lewe te rig en gelowig op die uitkoms wag wat Hy vir jou sal gee.

Hemelse Vader, vergewe my dat dit vir my so moeilik is om U voluit te vertrou en te glo dat U volkome in beheer is. Help my asseblief daarmee. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adele ·

Dankie Here dat U daar is deur dik en dun! Maar ook het U ons met ‘n vrye wil geskape en as ons aan die versoekings toegee, weet ons dat dit U baie hartseer maak, ook die Heilige Gees se stem in ons lewens verstil, maar dat as ons ons sondes bely U regverdig is om ons daarvan te reinig!
Here wees asb genadig met hulle wat te trots is om selfs voor u hul verkeerde keuses wat tot sonde ge- ly het, te erken!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.