In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees. (Job 12:10)
Dis my skoolvriendin se verjaarsdag en ek bel oudergewoonte om haar geluk te wens. Deesdae praat ons net twee keer per jaar met mekaar – op my verjaardag en op hare.
Hierdie keer vertel sy my van die swaar tyd waardeur sy en haar man die afgelope paar maande gegaan het: Hy sukkel om werk te kry en die kontrakte wat hy wel ontvang, hou nie langer as ’n paar weke nie. Dis ’n stresvolle tyd, kom ek agter. Hulle kry regtig swaar.
Toe vertel sy: “En weet jy wat is die beste raad wat iemand my gegee het? Net dié paar woorde: ‘Asem in. Asem uit.’”
Lank ná ons gesprek dink ek weer aan wat sy my vertel het. Dis dan so eenvoudig, dink ek. Amper té eenvoudig.
Maar dis tog so: Daar gebeur iets wanneer jy bewus word van die asem wat by jou mond en neus invloei. Jou borskas vergroot, en dit bly ’n oomblik lank so. Dan, iewers daarbinne, gaan draai jou asem om en vind weer die uitkomplek. Jou borskas sak saggies terug en daar ontsnap ’n sagte suisgeluid uit jou neus of mond.
In sulke “asem in, asem uit”-oomblikke dink ek dikwels aan die Genesisverhaal wat ons vertel hoe die Skepper lewensasem in Adam en Eva geblaas het. En ek juig daaroor dat Hy ook lewe in mý geblaas het.
Paulus sê dat dit God is “wat aan almal lewe en asem en alles gee” (Hand 17:25). Job sê dat God “al wat lewe, in sy mag (het), die asem van elke mens” (Job 12:10).
My asem kom van God af. Dis sy gawe aan my.
En as Hy dan mag het oor hierdie asem, weet Hy sekerlik van elke benoude asemteug, elke sug van verligting en elke keer as ek die asem intrek wanneer ek skrik. Hy weet hoeveel keer ek al my asem ingetrek het, en hoeveel keer ek dit gaan uitblaas.
Hy weet van my fluistergebede en Hy hoor my jubelende lofsange. Hy ken my angstige, vlak asemhaling wanneer die lewe te dol raak, en Hy voel hoe die borrelende giggel uit my keel ontsnap wanneer ek pret het.
Hy ken die ritme van my asemhaling. En daarom sal elke asemteug – elke keer as ek inasem en elke keer as ek my asem weer uitblaas – ’n dankbare herinnering daaraan wees dat Hy my God is, die Een wat vir my sorg.
Here, dankie dat U aan my asem en lewe geskenk het. Help my om elke asemteug ter ere van u Naam te gebruik.
Dankie Liewe Heer dat U my Vader is en elke asemteug van U af kom.
Dankie Here dat U in ons lewens is. Amen!
Hoe almagtig is onse Skepper nie! In Sý liefde is ons ewige hoop en uitkoms – áltyd. Prys Sy heilige Naam in volkome dankbaarheid.
Lof aan die Heere onse God.
Dankie Here dat ek kan asem haal
Dankie Heer vir elke asemteug wat mag maak benoud of vreugdevol u laat my groepi tot u eer amen