Aswoensdag: Tyd vir Goeie Nuus

Deur dr. Christo Pretorius

kruis-01

Foto: Samuel McGarrigle/Unsplash.com

Op die markplein van Priene in die weste van die hedendaagse Turkye is twee kliptablette gevind wat vandag as die Kalender-inskripsie van Priene bekendstaan.

Dié kalender-inskripsie dateer uit 9 v.C. en kondig die geboorte van keiser Augustus aan as die aanvang van ’n nuwe era; ’n aankondiging wat as evangelie, as blye boodskap, as goeie nuus aangebied word.

Verder beskryf die teks die nuwe era as ’n tyd waarin alle oorlog tot ’n einde kom en almal wat die heerskappy van hierdie koning, Augustus Caesar, erken en ’n eed van lojaliteit sweer, sal van vernietiging gered word.

In antieke tye was dit nie ongewoon dat jaarkalenders aan die hand van keisers of maghebbers se heerskappy en geboorte opgestel word nie en dit is begryplik dat die skrywers van die Evangelies nie sonder rede die geboorte van Jesus Christus hierteenoor stel nie.

Trouens, die kalender wat deesdae die ritme en gang van tyd aandui, die Gregoriaanse kalender, is deur die Roomse geestelike Gregorius XIII in Oktober 1582 bekendgestel en het as regstelling op die Juliaanse Kalender van Julius Caesar, die skrikkeljaar ingestel.

Dit was nie die enigste regstelling nie.

Sedertdien is dit die gebruik om die kom en gaan van jare aan te dui as voor Christus (v.C.) of Anno Domini (AD) – in die jaar van ons Here (ook as ná Christus [n.C.] geskryf)

Die ritme van die lewe is toe aan die hand van Christus se koms ingerig en dit is steeds die gebruik van die kerk om die lewe en die meet daarvan aan die hand van Jesus Christus se geboorte, dood en opstanding te meet.

Deur middel van die kerklike jaar vier gelowiges die dade van God en in besonder die goeie nuus: Christus se koms.

Maar goeie nuus is net werklik goeie nuus wanneer dit iets beteken of van waarde is vir diegene aan wie dit gerig word.

Dit is goeie nuus wanneer ’n aangeklaagde hoor hy is onskuldig, of as ’n Pa hoor sy seun sal gesond word. Dit is goeie nuus wanneer ’n volk hoor die oorlog is verby.

Afrikaners, ander gemeenskappe en volke smag na goeie nuus.

In sy Woord kondig God die goeie nuus aan. Hy kondig ’n oorwinning aan. – die oorwinning van Jesus Christus oor ons sonde en dood en die herskep van die band met God. Die goeie nuus is dat deur Christus word die lewe, ons bestaan, gered.

Op grond van hierdie oorwinning en redding rig gelowiges hul lewensritme en aanbidding in en dit geld ook van volke en gemeenskappe wie se lewensgang in die Evangelie, die goeie nuus, geanker is.

Volgens die kerklike jaar, die ritme van gelowiges se lewe, was dit gister Aswoensdag wat die begin van die 40 dae-Lydenstyd aankondig.

In sommige kerke en denominasies bestaan die gebruik om met as ’n kruis op die voorkoppe te teken as simbool van stoflikheid en boetedoening. Watter gebruike ook al heers, die viering van Aswoensdag is nie in die eerste plek vanweë tradisie of estetiese oorwegings nie, maar gerig op die inhoud van die Evangelie.

Dit kondig nie net die begin van Lydenstyd aan nie, maar lei na die hoogtepunt van die kerklike jaar, Paasfees, wat vanjaar vanaf 10 tot 12 April gedenk en landwyd gevier word. Dit is ’n tyd van refleksie en nadenke oor die koms van Christus.

Sy koms en opstanding uit die dood rig ons lewe en die ritme daarvan. Dit rig ons op Hom wat oor al ons krisisse, selfs sonde en dood, triomfeer en die lewe red.

Dít is goeie nuus.

Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Drikus

As gereformeerde wat die Bybel as enigste waarheid voorhou, is aswoensdag geensins Bybels en weereens ‘n roomse gebruik, wat baie subtiel aangebied en ingesmokkel word. Ons gedenk die lydenstyd van Christus, vanaf verlede Sondag, tot en met sy kruisiging op Goeie Vrydag, maar hierdie soort boetedoening, en “afkoop” van sondes is totaal en al ‘n gruwel. Ken jou belydenisskrifte sodat jy die dwaalleer aan die hand van die Woord kan weerlê en bestry!

Leonard

Die Afrikaner is besig om sy erfenis van gereformeerde belydenis en geloof as grondslag, nie simbole en seremonies as kerkwees nie, te verruil vir die klatergoud van menslike seremonies. Dis tragies. Dit laat die vraag ontstaan wat Flip Buys dan bedoel met “kulturele kapitaal” – watter kultuur is dit dan? Maar dieselfde as alles en almal se gewoontes en gebruike om ons? Wat maak die Afrikaner dan uitkenbaar?

Drikus is reg: gaan ons nou ons troos en versterking in Roomse gebruike soek?