Gedagte vir die dag: Baie vrugte

 druiwe.jpg

Foto: pixabay.com

LeesJohannes 15:5-8

“My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra . . . “ (Johannes 15:8)

Dit word toe uiteindelik agt verse in die Johannesevangelie waarin Jesus, duidelik en herhalend, hierdie bekende boer-wingerdstoklote-prentjie teken. Die vrugte daarbyvoeg, asook die teenstelling daarvan: die vrugteloosheid. Hy trek die gevolge van laasgenoemde deur tot by die laaste ellende – verdroog, vuur, verbrand.

Die begenadigde vrugdraers kry ‘n bykomende belofte: Nie net is daar die vreugde van hul verbondenheid aan Jesus nie, maar hulle ontvang ook ‘n vrypas na die Goddelike oor. En die gewaarborgde oopgaan van sy seënende hande. Die lewensap wat deur hulle bruis, laat hulle op vele vlakke geseënd lewe.

Dit is klaarblyklik wat oorvloedige vrugdra tot gevolg het – oorvloedige seën. Sien, die vrugte word nie ter wille van die loot self gedra nie; dit is ander wat dit pluk en eet en geniet. Omstanders, buitestanders, selfs toevallige verbygangers. Vreemdelinge. Hulle pluk die vrugte van die loot se verbintenis aan die wingerdstok. En hieroor glimlag God breed.

Só leer die Jesusvolgelinge ‘n kosbare les: Hul dissipelskap is nie om hul eie onthalwe nie. Dit is in die eerste plek tot eer van God en tot tasbare voordeel van hul medemens. Daarom kan hulle, die vrugdraers, maar vra vir nóg, en nóg, en nóg. Hulle sál dit kry, want, sê Jesus, sy Vader word deur die baie vrugte verheerlik. Sy ander skepsels wat honger daarna – die omstanders, die buitestanders, die toevallige verbygangers, die vreemdelinge – word immers daardeur gevoed.

Here, hoe bevoorreg is ek om vrugte te dra! Hou my styf aan U gebind. Maak die vrugte meer en meer, tot u eer.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.