Gedagte vir die dag: Bang, maar gestuur

 ou-deur_stiltetyd_ABrits.jpegLees Johannes 20:19-25

Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode … (Johannes 20:19)

Bymekaar, ja. Hoe dan anders? Bang mense soos ons soek mekaar mos op.

Ons het genoeg rede gehad om bang te wees. Jesus is immers daardie Vrydag gekruisig en voor donker begrawe. Toe kom die sabbat, en alles is stil soos die wet dit voorskryf. Onheilspellend stil. Sondagoggend vroeg kom die vroue hier aan met die ontstellende nuus: Die graf is leeg!

Nee! Wie het sy liggaam weggevat? Wat gaan nou van ons word? Ons kry mekaar in die bovertrek, ons ou wegkruipplek. Ons grendel die deur. Ons sluit ons dig toe sodat niemand ons kan bykom nie. Dankie tog dat ons mekaar het. Ons kan mekaar vashou, mekaar troos. Vrees is ’n eensame ding.

Net Tomas Didimus ontbreek. Waar sal hy wees? O, en Judas. Maar ons weet van hom. Almal weet van hom. Wat sou van Tomas geword het?

En toe staan Jesus by ons. Hý, ja. Tussen ons. En Hy sê: “Vrede vir julle!” (v. 19). Moenie bang wees nie, dit is Ek. Kyk my hande. En kyk, net hier het hulle die spies ingesteek, hier in my sy. “Vrede vir julle,” sê Hy toe weer (v. 21). Daar was geen twyfel nie. Dit was Hy. Hy blaas toe oor ons en sê: “Ontvang die Heilige Gees!”

(v. 22). En hoor hier: Ek stuur julle … Hy leef! En Hy het vir ons ’n nuwe opdrag gebring. Verstommend! Ons kan dit byna nie glo nie!

Maar waar is Tomas? Wat sal hy sê as ons hom van al hierdie dinge vertel?

Here, ek is een van die banges. Nogtans vertrou U my, stuur U my ook.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae