Gedagte vir die dag: Die begeertes van jou hart!

see_sonsopkoms_hart_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal aan jou gee wat jou hart begeer.” (Psalm 37:4 – AFR83)

Die begeertes van jou hart is nie net wat jy wil hê nie, maar waarom jy dit wil hê. Die begeertes van jou hart onthul wie jy is, jou integriteit, jou visie en jou ingesteldheid. Die afgelope week was ek net so oorweldig deur die liefde, goedheid en guns van die Here, maar voordat ek hierdie begeertes van my hart kon ontvang, moes ek eers ’n belangrike lewensles leer. Wat dit beteken om jou vreugde te vind in die Here.

Om jou vreugde te vind in die Here, is om jou vreugde te vind in die wete dat God jou oneindig baie lief het. Jou vreugde te vind in die sekerheid dat Hy net die beste vir jou wil hê. Jou vreugde te vind daarin dat die Here nie aan jou die begeertes, wat jy dink jou hart verlang, wil gee nie, maar die begeertes wat jy regtig in jou hart koester.

Aan hoeveel gebede kan jy dink wat jy net te dankbaar is die Here nie verhoor het nie?! Op daardie oomblik was daar niks wat jy gedink het jy meer kan begeer as dit nie, maar God, wat jou hart beter ken as wat jy jou eie hart ken, het geweet wat jy werklik begeer en wat die hartsmotief agter die versoek was. Jy wou dalk spesiaal, waardevol, kosbaar of geliefd voel, en dit was die eintlike rede agter hierdie begeerte, maar God in sy almag het geweet dat dit wat jy dalk geglo het hierdie begeerte sal vervul, nie werklik die oplossing sou wees daarvoor nie. God het geweet dat dit net ʼn tydelike verligting sou bied, voordat dit opeindig in hartseer, verwerping en wantroue.

Die lewensles wat ek geleer het was dat ’n opregte en gesonde hartsmotief die regte hartsbegeertes in jou hart sal voortbring. Wanneer jou hartsmotief altyd is om vreugde in die Here te vind, sal jou hartsbegeertes ook aan jou ware vreugde en vervulling bring. Die Here is altyd getrou en regverdig en Hy sal aan jou al die regte en goeie begeertes van jou hart gee, in die tyd wat Hy goed en reg daarvoor bestem het.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.