Gedagte vir die dag: Begin by die Woord

Bybel_Kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. (Hebreërs 4:12)

Ons hoor in Johannes 15 hoe Jesus sy dissipels ’n klomp gewigtige dinge leer. Een daarvan is die kort en kragtige opdrag: “Julle moet in My bly” (Joh 15:3). Hy vra sy dissipels om hul verbeelding in te span, dat hulle hulle ’n wingerdloot moet verbeel wat nêrens ingeënt is nie. Wat verdroog en uiteindelik weggegooi en verbrand word.

En dan een wat by die wingerdstok ingeënt is, wat kan groei en vrugte dra. Só, het Hy gesê, sal julle wees as julle in My bly. Een van die dissipels het Hom sekerlik gevra: “Maar hóé kan ons in U bly?”

Jesus se antwoord het op die volgende neergekom: Julle bly in My en Ek in julle deur my woorde wat in jul hart is. Deurdat julle my opdragte uitvoer en deurdat julle ander mense liefhet.

Hierdie “bly in My”-opdrag voel dikwels onbereikbaar. Totdat jy dit behoorlik bedink en heel prakties beskou. Dan verstaan jy dat Jesus eintlik sê: Dink na oor God se Woord. Doen wat Hy sê.

Behandel ander mense met liefde en respek. Dit klink asof daar ’n logiese volgorde in hierdie opdragte is, so asof Jesus sê: Begin by my woorde. Maak dit deel van jou gedagtes. Dit is die woorde wat die Woord in jou hart geskryf het én die woorde in die Boek wat op jou bedkassie lê.

Laat jou geloofspad daar begin. Lees dit, drink dit in, laat dit jou verander. Laat dit in jou bly. Hierdie woorde is lewend en kragtig (vgl. Heb 4:12). Jy moet dit dag en nag oordink. Dit omvorm jou tot ’n boom wat op die regte tyd vrugte dra en nie in droogtetye verwelk nie (vgl. Ps 1).

Dis woorde wat jou leer hoe om bekommernisse te hanteer en wat jou aanmoedig om dit deur gebed en met danksegging na God toe te bring. Deur woorde soos dié leer jy hoe om oor geld te dink, hoe om kinders groot te maak, hoe om jou verhoudings te laat gedy.

Dis die Lewende Woord wat in al hierdie omstandighede aan ons wysheid en insig en genade gee. Dis Hy wat die woorde wat ons lees in ons hart lewendig maak. Hy help ons om te weet wat God se opdragte is, en Hy help ons om dit uit te voer.

Uiteindelik is dit ook Hy wat ons hart verander sodat ons God se grootste opdrag kan uitvoer: om Hom bo alles lief te hê, én die mense om ons so lief te hê soos ons onsself het. Om op dié wyse vrugte te dra soos ’n loot wat in die ware wingerdstok geënt is.

En, ja, dis Hy, hierdie Woord, wat aan ons die opdrag gee om dankbaar te wees (vgl. 1 Tess 5:18).

Here, dankie vir die Bybel wat ons help om in U te bly en sodoende baie vrugte te dra.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge. Amen!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.