Gedagte vir die dag: Beginsels vir ’n beter lewe

Boekevat_Tuin_Foto_Juanita_Geyer

Foto: Juanita Geyer

Dit het ek wel ingesien dat dit ’n mens meer baat om wysheid te hê as om dit nie te hê nie. (Pred 2:13)

Lees Prediker 2:12-16

Tydens ’n reeks onderhoude met jong gevangenes het die skrywer Katie Brazelton elkeen van hulle gevra watter drie dinge hulle sou doen as hulle daardie dag vrygelaat sou word. Sy het die gevangenes se antwoorde in Op pad na ’n doelgerigte lewe vir vroue opgesom in ses beginsels vir ’n beter lewe.

Leef een dag op ’n keer. Moenie jouself vooruitloop nie.

Maak ’n plan as jy agterkom dat jy van die spoor afdwaal.

Dink positief. Vermy negatiewe persone en invloede. Kry rolmodelle en mentors om jou te help wanneer dinge moeilik word.

Ontspan. Leef ligter. Moenie jouself so ernstig opneem nie. Lag meer vir jouself en saam met ander.

Gee aan ander baie meer as wat jy verwag om te ontvang.

Praat met God oor elke besluit sodat jy kan leer om te fokus op die groter prentjie waarom jy gebore is, en nie net heeltyd op jou eie begeertes konsentreer nie. Wanneer jy daardie sekere iéts ontdek wat jou inspireer, maak dadelik werk daarvan. Dit sal jou help om uit die moeilikheid te bly.

Hemelse Vader, sal U my asseblief help om hierdie beginsels vir ’n beter lewe na te kom sodat dit vanjaar ’n goeie jaar vir my sal wees. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.