Gedagte vir die dag: Behou die regte perspektief

mense_bankie_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is. (Filippense 4:8)

Ons is skaars deur die Kersfeesgrens of Nuwejaar wink. Ons herstel nog van die een fees en dan is dit al weer terug winkels toe om voorraad te kry vir die volgende sarsie feeste. Jesus se geboortevierings is verby. Skielik is dit net nuwejaarsvoornemens en gesprekke oor wat die volgende jaar alles vir ons inhou. ’n Stukkie perspektief is broodnodig. Maar onthou: God is wie Hy is, al wissel tye en seisoene. Hy is altyd en orals ons anker en ons rots. In God vind ons ons rus, maak nie saak wat rondom ons en binne-in ons aangaan nie. Hy is ons vaste hoop. Hierdie wete, hierdie hoop, verander die tekstuur van ons lewe. Dit laat ons anders dink. God se teenwoordigheid by ons verander ons manier van leef. Hy bepaal watter koers ons lewe inslaan, ook in die nuwe jaar wat voorlê.

In ’n boek oor sy ervarings saam met die bekende Masaistam van Kenia vertel die skrywer hoedat hy saam met ’n paar van hulle vinnig moes beweeg om voor donker in hulle kamp te kom. Die Masai-hardlopers was spoedig onder hulle uit. Ná ’n ruk kom die skrywer en sy vriende op hulle af waar hulle in ’n kring sit. “Hoekom sit julle so?” wou hy weet. Toe antwoord een van die Masai hulle het so vinnig gehardloop dat hulle sit en wag dat hulle siele hulle liggame moet inhaal. Hoeveel van ons het dalk ook vir ons siel weggehardloop gedurende die afgelope jaar? Moenie dat dit met jou gebeur nie. Briek! God het jou gemaak om by Hom tot rus te kom. Laat dit jou lewensdoel wees vandag, asook in die nuwe jaar wat wag.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.