Gedagte vir die dag: Van die bekende paaie tot in die moeras

kruispad.jpgIn God, wie se woord ek prys, in God is my vertroue; ek sal nie vrees nie. Wat kan mense aan my doen? (Psalm 56:5) 

Die mense van elke geslag word geseën én geskend deur die unieke tyd in die geskiedenis waarin hulle leef. Kinders wat oorloë of hongersnood oorleef het, sal byvoorbeeld eendag hulle kinders só grootmaak dat hulle óf spaarsamig óf spandabelrig sal wees. Albei is ’n reaksie op die gebrek in hulle eie kinderjare.

Ons oordryf nie as ons sê ons reis na moeilike dae nie. Elke medianetwerk verkondig dat die wêreld in vele opsigte sinloos geraak het. En dit sal groot inspanning van ons verg om nie ons vreugde in hierdie donker dae te verloor nie. Dit is egter ’n stryd wat die moeite werd is om te stry, want dit wys dat ons as gelowiges anders is. Die wêreld behoort na ons lewe te kyk en te sê: “Daar is iets vreemds – en aanlokliks – aan daardie Jesus-mense. Dit lyk of hulle, soos die res van ons, in die dryfsand wegsink. Dit lyk of hulle hulle padkaarte in die modder verloor het. Maar hulle het nie hulle hoop verloor nie.”

Die heel grootste geskenk wat ons aan die volgende geslag kan gee, is om nie toe te laat dat hierdie ingewikkelde tye – polities, ekonomies, ideologies en kultureel – ons kinders skend nie. Ons kan ons kinders en ander mense laat besef dat hulle nie vir die dood óf vir die lewe bang hoef te wees nie.

Here, selfs terwyl die modder tussen my tone deur krul, verklaar ek dat U my blydskap vir die reis voorsien. Amen.

Bron: Reis lig deur die lewe deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge. Amen !

Sophia ·

Vader, as ek terugkyk op my lewe na die donker en alleentye, was U ALTYD DAAR! Daarom kan ek die toekoms tegemoetgaan met die wete dat U my NOOIT alleen sal los nie. EK DANK U DAARVOOR!!

Hannes du Toit ·

Môre
het nie julle dagstukkie ontvang nie. Is daar dalk fout asb.
Dankie en groete

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.