Gedagte vir die dag:  Die bekendste verhaal

wyse_manne_kersfees.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Lukas 2:1-14

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (Lukas 2:11)

Is dit die bekendste verhaal in die hele Bybel? Dalk wel. Mense wat nie ’n enkele Romeinse keiser se naam ken nie, weet van “keiser Augustus”. Kinders se eerste kennismaking met die begrip “volkstelling” het deur hierdie verhaal plaasgevind. Ag, en al die bekende en geliefde taferele speel voor jou af as jy hier lees: die swanger verloofde, die herberg wat nie plek gehad het nie, die kind wat in doeke toegedraai is.

Én die skaapwagters in die oop veld wat oor hul skape gewaak het. Hulle wat die engel se boodskap ontvang, daardie “goeie tyding van groot blydskap” (v. 10). Hoe hulle in die pad geval het na die geboorteplek en gaan vertel het hoe die nuus by hulle uitgekom het. Ja, ons ken die storie. Maar soos dit met bekende stories gaan, luister ons net met die een oor. Dit is anders as die aanhoorders van die skaapwagters se verhaal, wat “verwonderd” (v. 18) was, en die jong moeder, wat alles onthou en gereeld daaroor nagedink het (vgl. v. 19). Die storievertellers self het sing-sing daar weggegaan (vgl. v. 20).

En ons? Ons vra onsinvrae oor die presiese datum, die rol van Kersbome en geskenke en lawwe winkelliedjies, en ons murmureer oor die algemeen oor die kommersialisering van dié Fees. Pleks dat ons ’n slag onbevange luister na die verhaal, ons daaroor verwonder, probeer onthou wat ons daarin nog altyd geraak het, en gereeld daaroor nadink. Die dag sing-sing deurbring. En kyk  of ons, soos in ons kleintyd, ’n slag weer doodgewoon opgewonde kan wees. Soos kinders wat weet dat daar ’n geskenk van Pa op ons wag.

Jaar na jaar herinner U ons feestelik aan ons grootste Geskenk. Hoor ons sing: “Ere aan God in die hoogste hemel!”

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.