Gedagte vir die dag: Belangrike inligting

sonsondergang_Nathan_Steyn_NZealand.jpg

Foto: Nathan Steyn

Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. (Matt 5:14, 16)

Die mense wat nie aan Jesus verbind is nie, kan Hom nie sien of beleef nie. Die naaste kontak wat hulle met Jesus het, is sy lewe en waarheid wat in en deur sy volgelinge straal. As jy ’n volgeling van Jesus is, is hierdie baie belangrike inligting. Dit beteken dat jou lewe nie meer “net gewoon” is nie. Dit word die vertoonkas vir die evangelie.

Dis nie jou foutloosheid wat ’n lig is nie, maar jou reaksie op God se waarheid te midde van jou foute en onvolwassenheid. Dis God se waarheid ín jou wat vir mense wys daar is hoop, daar is verlossing en daar is lewe in Jesus. Jy hoef nie voor te gee of aan te sit nie. Wees net opreg voor God en voor mense.

Mense word nie aangeraak deur maskers nie, maar deur opregtheid en waarheid. Moenie bang wees om opreg te wees nie. Wees gerus kwesbaar in God se waarheid. Dit bring goddelike verligting.

Bron:
Jesus se woorde vir mans deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.