Gedagte vir die dag: Die belangrikste in die hemel

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Lees: Matteus 18:1-5

Hy (Jesus) het ’n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: ‘Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. (Matteus 18:2-4)

In die tyd toe Jesus op aarde geleef het, is vroue en kinders nie as belangrik geag nie. Met sy uitspraak hierbo wil Jesus vir sy dissipels sê dat iemand wat Hom wil volg, soos ’n kindjie behoort te wees. Kindertjies wat hulself ‘gering ag’ (v 4) is nederig en totaal afhanklik van volwassenes vir hulle versorging. Hulle is vir ons ’n voorbeeld omdat hulle so afhanklik van hulle ouers is, soos ons van God afhanklik behoort te wees. Sulke mense – hulle wat weet hoe nodig hulle God het – is die heel belangrikste in God se koninkryk. Jesus herhaal hierdie uitspraak in sy Bergrede: ‘Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel,’ sê Hy in Matteus 5:3.

Indien jy graag eendag in die hemel belangrik wil wees, sal jy jou egoïsme op aarde moet laat staan en bereid wees om ander mense belangriker as jouself te ag. En onthou altyd, hoe meer aardse besittings jy het, hoe moeiliker sal dit waarskynlik vir jou wees om jou afhanklikheid van God te erken en uit te leef.

Here Jesus, vergewe my dat ek so vol van myself is dat ek sukkel om nie altyd eerste te wil wees nie; dat ek meen dat ek vir myself kan sorg. Maak my gewillig om in alles absoluut afhanklik van U te wees, en om in nederigheid ander hoër as myself te ag.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy!  Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Freddie ·

Dankie Here vir vergifnis. Ek weet alle goeie dinge is van U en ons het ‘n verantwoordelikheid om dit met respek te gebruik en te bewaar. Gee ons die krag om te besluit vir U wil. Inspireer ons met antwoorde op die moeilike tye waarin ons leef en herinner ons as Heilige Gees om U wil te eer. Ek bid dit uit genade. Amen.

Heidi ·

Ek verstaan nie hierdie stelling nie “En onthou altyd , hoe meer aardse besittings jy het, hoe moeiliker sal dit wasrskynlik vir jou wees om jou afhanklikheid van God te erken en uit te leef” ek ken baie welaf mense met baie aardse besittings wat Godvresende gelowige mense is en wat in oorvloed vir die minderbevoorregtes gee of verstaan ek nie die konteks nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.