Gedagte vir die dag: Beloftes aan God

Stilte-10.png

all-free-download.com

Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat … wat sy woord hou, selfs tot sy eie skade. (Psalm 15:1–2, 4)

Om ’n belofte aan God te maak, is ’n ernstige saak. Jy moet dit uiters goed oorweeg, want om onnadenkend vir God iets te belowe kan op ’n fiasko uitloop. Dink maar weer aan Jefta wat vir die Here gevra het om hom te help om die Ammoniete te verslaan en Hom toe beloof het om die eerste persoon wat hom by die huis ontmoet, te offer. Sy dogter, sy enigste kind, het Jefta met tamboeryn en koordanse tegemoetgegaan.

Hierdie soort voortvarendheid wat op ’n tragedie uitgeloop het, dien as waarskuwing vir jou wat alte maklik jou naam op ’n dienslys by die kerk neerskryf en dan, wanneer jy gebel word om jou belofte gestand te doen, skielik 110 verskonings het. Dalk vra jy uitstel om later te help. Maar later kom nooit, want elke keer as jy gebel word, het jy weer ’n verskoning.

Dis mos gaaf om jou naam op ’n lys te sit, maar nie so gaaf om jou tyd en energie af te staan en jou beloftes in dade te omskep nie – veral nie as dit beteken dat jy jou rustige Saterdagmiddag moet prysgee of ’n uur vroeër kerk toe moet gaan nie. Soms begin jy entoesiasties meedoen, maar jou belangstelling verflou en jy bedink ’n plan om kop uit te trek. Die jammerte van hierdie situasie is dat jy nie vir mense belowe nie, maar vir God, en dat jy Hom in die steek laat.

Wat dink jy sal met jou gebeur as God sy beloftes verbreek?

Dankie Hemelvader, dat U ons nie oordeel na ons foute nie, maar in die lig van die offer wat Jesus gebring het. U het vir ons ’n Verlosser belowe en U het nie vergeet nie. Hoe kan ons nog selfsugtig wees?

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.